Advertensie
Advertensie

Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Lesers 2010


Kyk saam!

Moorddossier


Advertensie
Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

25.08.10

Skaduwêreld ontbloot

23.08.10

Ongeluk eis bekende

23.08.10

Nujoma: Vat die grond

24.08.10

Tragedie in sjebeen

9.02.2010

Grondwetskrywers ruk op

IN ‘n geskiedkundige wending kom die oorlewende grondwetskrywers vanaand vir die eerste keer in 20 jaar weer saam in die Namibiese hoofstad, Windhoek, om onder meer hul oor vooruitskouings en uitdagings vir die volgende 20 jaar uit te spreek.

Die historiese byeenkoms val saam met ‘n pleidooi van die Ombudsman, adv. John Walters, dat die grondwet ‘n verpligte skoolvak moet word.

Vanaand se byeenkoms op uitnodiging van adv. Walters, sluit die lede van die subkomitee in wat onder voorsitterskap van die Minister van Handel en Nywerheid en Namibië se stigterpremier, dr. Hage Geingob, die belangrikste onderhandelinge agter geslote deure gevoer het.

Dr. Geingob sal egter weens ‘n besoek van President Hifikepunye Pohamba aan Ghana, waar Afrikabeleggings en ontwikkeling onder die vaandel van die Afrika-unie bespreek word, nie teenwoordig kan wees nie.

Die Kantoor van die Ombudsman het ter viering van Grondwetdag op 9 Februarie die oorspronklike grondwetskrywers genooi om na twee dekades weer hul handewerk in oënskou te neem.

Adv. Walters sê sy Kantoor het die afgelope jare op verskeie maniere die volk van die Grondwet bewus gemaak, maar hy is van mening dat heelwat meer gedoen kan word om die inligting in hierdie belangrike dokument by die inwoners tuis te bring.

In die verband doen hy ‘n beroep op die Regering om oorweging daaraan te skenk om die studie van die Grondwet ‘n verpligte vak op skool te maak.

“Om die bewusmaking te bevorder, het ons daaraan gedink om hulde te bring aan die 72 grondwetskrywers wat die dokument in net 80 dae voltooi het. Die afgelope 20 jaar is nog net een wysiging aangebring en dit was na agt jaar van onafhanklikwording om voorsiening te maak vir ‘n derde termyn vir die stigterpresident, mnr. Sam Nujoma.”

Die huidige Speaker, mnr. Theo- Ben Gurirab, sal saam met die voormalige voorsitter van die DTA, mnr. Dirk Mudge, die leier van die UDF, mnr. Justus Garoëb, die voormalige president van die NPF, mnr. Moses Katjiuongua, die voormalige president van die NNF, adv. Vekuii Rukoro, die voormalige verteenwoordiger van die FCN, prof. Mburumba Kerina, en mnr. Jan de Wet van ACN, aanbiedinge oor die Grondwet lewer.

“Hulle sal ‘n terugblik oor die afgelope 20 jaar ten opsigte van die Grondwet en die uitdagings skets wat nog voorlê. Die klem val dus op die samekoms van ons grondwetskrywers,” sê adv. Walters.

Hy sê tydens die opstel van die Grondwet het die verteenwoordigers van die onderskeie politieke partye mekaar nog as vyande beskou, maar weens ‘n versoenende houding kon hulle in ‘n rekordtyd die Namibiese grondwet opstel wat vandag steeds as ‘n voorbeeld vir Afrika dien.

Die hoofspreker vir die aand is prof. Kader Asmal wat in Suid-Afrika se eerste parlement gedien het en ook ‘n kundige op die gebied van menseregte is.

Lesers kan na ‘n klankgreep met adv. John Walters oor Grondwetdag onder die Nuus vir die oor-skakel luister.