9.03.2010 Goliath sonder kroon
 Mnr. Thomas Karools wat op omstrede wyse tot 31 Desember vanjaar as waarnemende hoofman van Goliath-faksie aangestel is, mnr. Moses Coleman (middel) wat die seggenskap van die volgelinge van Goliath-faksie hul keuse van ’n leier ontneem het, en mnr. Johannes Fleermuys, gewese waarnemende leier wat bedank het.
DIE aanstelling van ’n hoofman vir die Goliath-faksie van die /Hai/ Khaua-stam van Berseba is die naweek op ’n stamvergadering in groot omstredenheid gedompel toe slim voetwerk van die voorsitter van die vergadering, die verloop daarvan totaal verander het.
In plaas daarvan dat mnr. Stephanus Goliath op wie se skouers die hoofmansmantel op ’n vorige vergadering reeds gelê is en die stambesluit die naweek eintlik net amptelik bevestig sou word, is ’n nuweling in die persoon van mnr. Thomas Karools as waarnemende hoofman tot 31 Desember 2010 aangestel.
Dit sonder dat die lede wat die Goliathstamvergadering bygewoon het, kans gegee is om daarop te reageer of om beswaar aan te teken.
Na die amptelike bedanking van waarnemende hoofman Johannes Fleermuys het lede van die Goliath-groep op 22 Februarie vanjaar besluit dat mnr. Stephanus Goliath by hom die leisels sou oorneem.
Op die naweek se vergadering het mnr. Moses Coleman wat as voorsitter opgetree het, egter aangekondig dat hy ’n versoek ontvang het dat iemand iets wil sê.
Een van Berseba se bejaarde inwoners, mnr. Lazarus Tiboth, het opgestaan en voorgestel dat mnr. Karools as waarnemende hoofman aangestel word.
Die voorsitter het, sonder om op ’n sekondant te wag, die voorstel aanvaar en aangekondig dat mnr. Karools die posisie tydelik tot 31 Desember sal beklee.
Mnr. Goliath wat voorheen hoofman van die stam was en vir 12 jaar op sabbatsverlof gegaan het en dit nou sou ophef om weer sy pligte te hervat, het gesê dat hy nie sy wil op die mense sal afdruk nie.
Hy het dit egter duidelik gestel dat indien die Goliath-faksie hom tot die amp verkies, hy bereid is om die posisie vol te staan. Mnr. Goliath was vanaf 1992 tot 2004 vir twee ses jaar termyne die verteenwoordiger van die Berseba-kiesafdeling in die Karas-streekraad waar hy as goewerneur van die streekraad gedien het.
In dié tyd het mnr. Fleermuys as hoofman in sy plek waargeneem. Die gedagte was destyds dat mnr. Fleermuys tydelik met die pligte van hoofman toevertrou word tot tyd en wyl mnr. Goliath weer beskikbaar sou wees.
Dié veronderstelling is op die vergadering van die naweek omver gegooi weens die wyse waarop mnr. Coleman vergaderigsprosedures bewimpel het Waarnemers uit die /Hai/Khaua-gemeenskap meen die posisie van hoofman van die Goliath-faksie het nou die lanseerterrein van politieke loopbane van individue geword.
Hulle het die vergaderingsprosedure waar mnr. Karools as tydelike hoofman aangewys is, as ’n ongehoorde minagting van die vasgelegde prosedure van die opvolging van leiers beskryf.
Hulle voer aan dat mnr. Karools volgens die bloedlyn van sy geboorte nie as ’n kandidaat vir hoofmanskap van die Goliathgroep oorweeg kan word nie. Hy het blykbaar ook nie die nodige vaardighede of opvoeding om as alternatiewe meriete sy aanstelling te regverdig nie.
“Veranderinge van leierskap op Berseba, veral nou met die komende streek- en plaaslike verkiesings op hande, is ongewens,” meen waarnemers.
Teenstanders van mnr. Stephanus Goliath glo blykbaar dat hy nie ’n geskikte kandidaat is nie aangesien hy ’n sterk onafhanklike denker is en die /Hai/Khaua-stam as ’n eenheid wil saamsnoer.
Die situasie onder die Goliath-faksie van die stam plaas nou die toenemend ongewilde stamraad van die groep in direkte konfrontasie met hul volgelinge. Op die naweek se vergadering is ook openlik aangedring op ’n vergadering waar die publiek seggenskap in die keuse van hul leier moet hê.
Tot tyd en wyl, word gereken, sal enige besluite deur mnr. Karools namens die stam geneem, onwettig wees.
Intussen het mnr. Fleermuys in sy emosiebelaaide bedanking uit die pos as waarnemende hoofman aan die Goliath-groep en Berseba-gemeenskap gesê: “Ek sê met vrymoedige hart, vat julle leierskap terug sonder dat ek dit versmoor. Leierskap is erfenis. Laat jul ouers se erfenis julle s’n bly.”
|