20.01.2012 Goeie reën in Noorde
WYD verspreide reënbuie in die noorde van die land het vir die tweede agtereenvolgende dag sopnat toestande tot gevolg gehad.
Op Okahao is 129 mm reënval binne 48 uur gemeet en die volgehoue reën het inwoners se lewens ontwrig.
Op die volgende plekke is meer as 5 mm reënval gisteroggend gemeet: Okahao (49,6 mm), Oshakati (29,6 mm), Otjiwarongo (17,4 mm), Oshikango (12 mm) en Okongo (5,4 mm).
Die binneland sal vandag gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees met voorspellings van donderstorms, behalwe in die Noordweste en Suidweste. Die kus sal gedeeltelik bewolk en koel wees.
Die warmste dorp in die land sal vandag Mariental wees waar die kwik tot 36 grade kan styg.
|