
Mnr. Hartmut Ruppel
IN een van die merkwaardigste ommekere van omstandighede, het die Pensioenfonds vir Staatsinstellings (GIPF) se beleggings in sy ontwikkelingskapitaal portefeulje ‘n wins van meer as N$144,5 miljoen gemaak.
Die GIPF was die afgelope maande in die spervuur met bewerings dat die belegging van N$661 249 000 wat in plaaslike maatskappye ingevolge die ontwikkelingkapitaal portefeulje (DPC) gemaak is, alles geld in die water was.
Die voorsitter van die direksie van GIPF, mnr. Hartmut Ruppel, het aan Republikein toegegee dat van die beleggings wat gemaak is, nie die verwagte vrugte afgewerp het nie, en dat hard en krities na die feite gekyk is en daadwerklike ingrypings gemaak is om te verseker dat die pensioenfonds nie skade lei nie.
“Sommige van die DCP-projekte het misluk, ander nie. Die kort en lank van hierdie verhaal is dat ons N$661 miljoen belê het en N$805 miljoen uitgekry het, ‘n netto wins van N$144.5 miljoen met nog meer op die horison. Ons het nou ‘n suksesvolle wynplaas, ‘n slagplaas met ‘n betekenisvolle bemagtigingsgetuigskrif, wat die Frans Indongo-groep saam met ‘n Suid-Afrikaanse belegger gekoop het, ‘n varkplaas by Mariental, alles projekte wat werkgeleenthede verskaf en waarvan sommiges buitelandse valute verdien.
“Die wat nie waag nie, sal nie wen nie. As dit nie vir die DCP was nie, ondanks al die vreeslike foute wat gemaak is, sou niks hiervan bestaan het nie. Ons sou nie ‘n groot aandeelhouer in FNB Namibië gewees het nie en Tsumeb sou ‘n spookdorp gewees het. So, ja, ons het verloor, maar in die groter prentjie het ons gewen, vir die GIPF, vir die werkers en ook vir die ekonomie,” het mnr. Ruppel aan Republikein gesê.
Sekere van die ondernemings waarin belê is, het geld verloor, maar ander vaar goed en in sy geheel het die beleggingportefeulje presteer,” het mnr. Ruppel gesê.
Die GIPF besit steeds beleggings wat hulle oorsprong in die DCP het, ter waarde van N$398 297 000 en het dividende, rente en kapitale terugbetalings van N$407 539 000 tot hede toe ontvang met meer te wagte in die toekoms. Dit bring mee dat die aanvanklike belegging in die DCP van N$661 249 000 ten volle herwin is en dat ‘n stewige wins boonop gemaak is.
Die belegging in City Savings & Investment Bank, wat sedertdien in aandele in FNB omgeskakel is, het die beste gevaar en het ‘n 26.75 persent jaarlikse opbrengs gelewer.
Capricorn Investment het ewe goed gevaar met ‘n groei van 25.8 persent.
Die omstrede Windhoek Country Club het ook uitstekend gevaar en groei teen 13.6 persent per jaar. Die waarde van die belegging, wat in 1995 ‘n lening van N$30 miljoen ontvang het, word vandag op N$40 461 959 beraam.
Ander presteerders was Preferred Management Services met ‘n opbrengs van 13.3 persent per jaar, die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE) se kollateraalrekening wat jaarliks 8.3 persent se opbrengs lewer; Etosha Fisheries met 4.7 persent en Ongopolo Mining se 3.9 persent.
Lenings wat aan die Swakopmund Stasie Hotel, Multiline Investments en Tutunge Invest--ments gemaak is, is ten volle met rente terugbetaal.
GIPF het ontslae geraak van sy beleggings wat nie presteer het nie, soos die Namibia Pig Farm, Namibia Grape Company, Karas Abattoir and Tannery (voorheen Ostrich Production Namibia) en Karas Ostriches.
Skuld wat afgeskryf is, was by Black Square Auto Engineering (N$6 992 830); Namibia Chicken Investments (N$9 751 514); Namibia Plastics & Liquids (N$20 miljoen); Tsogang Investments voorheen bekend as !Uri!Khubis Abattoir (N$5 miljoen), Omina Investments (N$12 miljoen) en Sepiolite Production (N$10 miljoen). Laasgenoemde drie was die enigste beleggings waarvan geen beleggingskapitaal herwin kon word nie.
Mnr. Ruppel wys ook daarop dat betekenisvolle maatskaplike en morele opbrengste gesien kan word, wat nie noodwendig in finansiële verslae verskyn nie.
“Die ontwikkeling van ekonomiese projekte in die suide van Namibië gaan voort om heelwat werkgeleenthede in ‘n gebied te skep waar dit moeilik is om werk te kry.
“Die voortsetting van mynbou-operasies in die Tsumeb-omgewing is steeds van ons afhanklik vir voortgesette mynboubedrywighede.
“Die fasilitering van Namibië se eerste formele behuisingontwikkeling in die Noorde op Ongwediva is betekenisvol en so ook die stimulering van ‘n gees van entrepreneurskap by vele Namibiërs in belang van die land,” het mnr. Ruppel gesê.