Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

10.03.2010

Gimmies rou oor maat se dood

© Republikein
Mauritz du Toit
HONDERDE boodskappe is op ’n sosiale netwerkblad geplaas kort na die tragiese sterfte van die 17-jarige Mauritz du Toit in ’n motorfietsongeluk Maandagmiddag.

Mauritz was ’n graad 11-leerling aan Windhoek Gimnasium en sy sterfte word deur mede-leerlinge openlik op “facebook” op die profiel, “Rest in Peace Mauritz du Toit” betreur. Vriende en vriendinne beskryf Mauritz op “facebook” as ’n besondere vriend, iemand wat altyd in tye van nood gehelp het en graag ander van hulp was.

Talle vriendinne vertel hoedat hy iemand was op wie se skouer hulle kon gaan huil en dat hy hul altyd opgekikker en laat lag het. ’n Ander vriendin vertel weer dat die trane wat oor haar wange loop nie die pyn en hartseer in haar hart kan beskryf nie.

Verskeie ander boodskappe vanaf vriende lui dat Mauritz in vrede moet rus en dat hy homself nou op ’n beter plek bevind. Bykans al die boodskappe bevat die woorde “ek gaan jou mis”, “ons mis jou baie” en “jy sal altyd gemis word”.

Volgens beskikbare inligting het die ongeluk plaasgevind toe ’n motor in Mosé Tjitenderostraat in Olympia afgedraai het en Mauritz probeer het om die motor verby te steek. Hy het die motor getref en is op die toneel dood verklaar.

Die skoolhoof van Windhoek Gimnasium, mnr. Fanie van Zyl, het aan Republikein vertel dat ’n predikant gisteroggend ’n klein roudiens in die skoolsaal gehou het wat deur onderwysers en hoërskoolleerlinge bygewoon is.

“Ons het in die ontvangslokaal ’n kers opgesteek wat gebrand het ter gedagtenis aan Mauritz. Hy was ’n hoogs intelligente leerling en een van die skool se toppresteerders in graad 10. Mauritz was altyd betrokke by musiek en kultuur en hy was by uitstek ’n bobaas-tromspeler. Ons het ’n boek by die skool waarin leerlinge en onderwysers mooi goedjies en dinge wat hul van hom onthou, kan neerskryf,” vertel mnr. Van Zyl.

Volgens sy ma, me. Issie du Toit, was Mauritz ’n ywerige leerling wat veral op wiskundige vlak gepresteer het. Hy het trouens in 2002 en 2004 aan die Nasionale Wiskunde Olimpiade deelgeneem. In 2003 het hy ’n goue medalje verwerf vir sy Jong Wetenskaplikes-projek wat gehandel het oor MIV/vigs en in 2005 het hy Namibië verteenwoordig by die Jong Wetenskaplikes Expo in Pretoria, waar hy ook ’n goue medalje gewen het.

Mauritz se begrafnis vind Donderdag om 10:00 vanuit die Windhoek Gimnasium se skoolsaal plaas. Hy laat sy ouers en twee susters agter.