28.10.2009 Gestremdes eis hul deel
DIE Nasionale Vereniging vir Mense met Gestremdhede (NFPDN) het hom Maandag op ’n mediakonferensie oor verskeie aangeleenthede uitgespreek wat die organisasie se naam deur die modder sleep weens wanopvattings rakende die komende presidents- en nasionale verkiesings.
Die NFPDN wil dit hiermee pertinent stel dat hy ’n sambreelorganisasie is wat na die belange van mense met gestremdhede in Namibië omsien, wat deur middel van voorspraak en inisiatiewe oplossings wil vind vir die verskeidenheid uitdagings wat sy lede daagliks in die gesig staar.
“Dit is onder meer probleme rakende onderwys en opleiding, selfverteenwoordiging, toegang tot inligting, toegang tot infrastruktuur, werk, volhoubare ontwikkeling en ekonomiese vooruitgang.
“Dit is van die hoofredes vir ons bestaan wat ons laat besluit het om die organisasie te stig.
“Ons wil dit voorts duidelik stel dat ons ’n apolitiese organisasie is wat geen verbintenis met enige politieke organisasie in Namibië het nie.
“Ons glo stellig daarin dat die genoemde uitdagings net behoorlik hanteer kan word met ons deelname aan die besluitnemende strukture van die Regering, wat onder meer verteenwoordiging in die Parlement insluit.
“Gedagtig hieraan, het ons ons lede aangemoedig om aktief betrokke te raak in hul onderskeie politieke organisasies om opgeneem te word in verskillende sektore waar besluite geneem word.
“Ons vra voorts die verskillende partye om ernstig te oorweeg om ons lede as kandidate in die komende verkiesings aan te wys dat ons sodoende in ons doel kan slaag,” lui die verklaring wat deur die organisasie uitgereik is.
Die organisasie het voorts die deelnemende politieke partye soos Swapo, RDP, Nudo en DPN geloof omdat hulle mense met gestremdhede op hul kandidatelys ingesluit het.
Met verwysing hierna het die NFPDN die posisie van mnr. Gerson Mutendere wat op die kandidatelys van RDP verskyn, verduidelik en verdedig.
Volgens die NFPDN is mnr. Mutendere nie die sekretaris-generaal van die organisasie soos beweer deur media in die land nie. Mnr. Londi de Wee beklee die posisie. Daarom is hy ook gevra net soos die ander lede in senior posisies by die NFPDN om vrywillig te bedank, of om verlof te neem indien hulle as kandidate verkies word.
Mnr. Mutendere het ook verlof geneem en hom tot na die verkiesings aan alle aktiwiteite van die NFPDN onttrek.
|