Waak teen nierversaking

VANDAG is Wêreldnierdag en dr. Ockie Oosthuizen, ’n nierspesialis van Windhoek, se boodskap aan Namibiërs is om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om kroniese nierversaking te verhoed.

“Bewusmaking van nierprobleme- en nierversaking sowel as die voorkoming daarvan, is van die uiterste belang en daarom is dit ook belangrik om te weet wat die oorsake van nierversaking is,” sê dr. Oosthuizen.

Diabetes en hoë bloeddruk is die hoofoorsake van nierversaking, terwyl nierinfeksie- of inflammasie en oorerflike nierprobleme ook tot nierversaking kan lei.

“Hoë bloeddruk is die mees algemene oorsaak in Namibië en die res van Afrika, veral onder swart mense. Selfs die swartmense in Europa en Amerika is meer geneig om as gevolg van hoë bloeddruk nierversaking te kry. Oorerflike oorsake is die skaarsste oorsaak van nierversaking.

“Sowat 100 nuwe gevalle van nierversaking per populasie van ’n miljoen mense word jaarliks in ontwikkelende lande geïdentifiseer, terwyl dié getal sowat 130 per miljoen vir ontwikkelde lande is,” vertel dr. Oosthuizen.

In Namibië word sowat 40 pasiënte tans vir nierversaking behandel en hulle moet gemiddeld drie keer per week vir vier ure per sessie dialise ontvang. Op Ongwediva ontvang ses nierpasiënte dialise en op Walvisbaai vier. Die ander pasiënte word in Windhoek behandel.

Die meeste nieroorplantings kan geskied danksy niere wat deur familielede geskenk word en alle Namibiërs se nieroorplantings word in Suid-Afrika gedoen, by Groote Schuur- of die Chris Barnard-hospitaal.

“’n Eenvoudige voorkomingsmaatreël is om op ’n gereelde basis ’n urientoets by ’n mediese dokter te laat doen. Die dokter sal kan bepaal of verdere toetsing nodig is. Indien iemand hoë bloeddruk onder lede het, is dit noodsaaklik dat die nodige behandeling daarvoor ontvang word,” adviseer dr. Oosthuizen.

Tipiese simptome van nierversaking is swelling in die bene, hoofpyne, naarheid en braking, sowel as ’n gevoel van swakheid.

Kategorie: 

Facebook kommentaar