
Da’nkie Renee Haraes (‘n jaar en agt maande) is een van die 25 kinders wat dusver hulp van Synenergy Seminars en Nampharm ontvang het om haar gesplete verhemelte te herstel.
’n LIEFDADIGHEIDSVELDTOG om 12 kwesbare kinders wat met gesplete verhemeltes en ander gebreke aan hul gesigte gebore is, gaan vir die derde agtereenvolgende jaar in Namibië plaasvind. Die veldtog bekend as “Race for a Smile” word vanjaar weer deur die NamPharm Truststigting en Synenergy Seminars aangebied en word op die gewilde televisiereeks “The Amazing Race” geskoei.
Die Presidentsvrou, me. Penehupifo Pohamba, het die bekendstelling van vanjaar se Race for a Smile amptelik van stapel gestuur en gesê kwesbare kinders het nog altyd naby aan die harte van die organiseerders van die veldtog gelê.
Sy het ’n beroep op die sakegemeenskap van die land gedoen om met oorgawe aan die liefdadigheidsveldtog deel te neem. Sake-ondernemings en individue kan in spanne van vyf inskryf. Op die dag van die resies sal die spanne op ’n dusver geheime plek vergader en leidrade ontvang om spesifieke plekke in erfenisgebiede op te spoor.
Wanneer hulle die plekke opgespoor het, vereis die spel dat hulle taai uitdagings moet voltooi voor hulle die volgende leidrade kan ontvang. Die wenspan word met ’n prysgeld van N$10 000 beloon. Me. Margy Jackman, die bestuurder van Synergy Seminars, het die aanvanklike idee vir die liefdadigheidsresies gehad.
Die veldtog word in samewerking met die NamPharm Stigting aangebied. Sedert die eerste Race for Smile gedurende 2009 aangebied is, tree NamPharm op om die geld wat op die wyse ingesamel word aan die behoeftige kinders te versprei.
Dr. Susan Kruger doen die operasies kosteloos en die geld wat ingesamel word, word gebruik om onder meer teaterkoste, spraakterapie, spesiale bababottels en ander items wat die kinders sal benodig, te betaal.
Die NamPharm Stigting hanteer die ingesamelde geld en behartig ook die betaling vir al die aspekte van die proses. Die Nampharm Stigtingtrust is in 2005 deur NamPharm op die been gebring juis om sy maatskaplike verantwoordelikheid teenoor die inwoners van Namibië na te kom.
Die trust is ’n onafhanklike instelling wat daarop fokus om mediese hulp aan minder bevoorregte kinders te bied. Die 12 kinders vir wie die geldinsameling plaasvind, is in samewerking met die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplie Diens geïdentifiseer.
Me. Pohamba, ’n oudverpleegster, is die beskemheer van die projek. Sy het daarop gewys dat reeds 25 kinders wat met die soort gestremdhede gebore is, deur die inisiatief gehelp is.