31.08.2010 Raak met veiligheid daarvan ontslae
MEDISYNE waarvan die verstrykingsdatum al verval het, hou nie net ’n gevaar vir mense nie, maar ook ’n risiko vir die omgewing in en die meeste mense weet nie hoe om daarvan ontslae te raak nie.
As dit in ’n toilet afgespoel word, kan die chemikalieë daarvan met ondergrondse water meng en ’n gevaar inhou vir mense, diere en plante wat die water moet gebruik.
Sou die medisyne in die asdrom gegooi word, kan kinders of diere dit dalk in die hande kry en daarvan insluk. Wat presies om met die medisyne te doen wat al verval het, is dus ’n probleem. Om hierdie rede het Klein Windhoek Apteek besluit om met ’n veldtog te begin waar mense medisyne wat verval het of nie meer weet waarvoor dit gebruik kan word nie, by die apteek kan inhandig.
Die apteker sal die pille identifiseer en sê of dit nog bruikbaar is en vir watter kwaal die pille gebruik kan word. Die medisyne wat verval het of nie meer gebruik kan word nie, sal dan in gemerkte sakkies gesit word om deur ’n maatskappy gehaal te word wat die chemikalieë daaruit sal verwyder voordat met veiligheid daarvan ontslae geraak kan word.
Gebruikte naalde en glasbottels sal gesmelt word en dan weggegooi word. Die apteek het gesê dit gaan hierdie diens teen geen ekstra koste aan hul kliënte en die gemeenskap bied.
|