
Eduard (21) en Gustav Piechazek (24).
WANNEER me. Hanely Piechazek van Windhoek vanoggend haar twee seuns na die teater vergesel sodat die een broer sy nier vir sy siek ouboet kan skenk, is dit met die gerusstelling dat wonderwerke wel gebeur.
Hiervan kan die familie van Daniela von Leipzig wat in November 2008 ’n suksesvolle leweroorplanting gehad het, getuig.
Die Daniela Medical Trust wat destyds gestig is om die Leipzigs se finansiële las te help dra, gaan ook nou ingryp om Hanely en haar gesin geldelik by te staan. Ofskoon die familie oor ’n mediese fonds beskik, beloop die bybetaling sowat N$100 000.
Sê me. Michaela Tietz, stigter en trustee van dié trust: “Vandag wag nog ’n familie op hul wonderwerk. En dit is dat altwee seuns gesond huis toe sal kom sodat ’n nuwe, normale lewe vir almal kan begin. Hulle is nou ’n familie wat tussen hoop en angs, tussen vertroue en twyfel, tussen die belofte van uitstekende mediese tegnieke en die moontlike verlies van lewe heen en weer tuimel.”
Gustav Piechazek (24) het op die ouderdom van 21 maande geskiedenis gemaak toe hy die jongste nieroorplantingspasiënt in Afrika geword het. Sy liggaam het egter toe hy 17 jaar oud was, die nier verwerp en sedertdien moes hy drie keer per week vir drie tot vier ure op ’n slag dialise ondergaan.
Sy jonger broer, Eduard (21), het met sy mondigwording besluit hy gaan sy nier vir sy ouboet skenk sodat hy ’n normale lewe kan lei. Ofskoon die Piechazeks vroeër al geweet het Eduard is ’n geskikte skenker, wou Hanely en haar eksman, Albert, nie namens hom toestemming gee nie.
Eduard sal vanoggend in die Chris Barnard Gedenkhospitaal in Kaapstad eerste teater toe geneem word waar een van sy niere verwyder sal word. Daarna sal die span dokters dié nier in Gustav oorplant.
Gustav het vroeër gesê hoewel hy baie dankbaar is oor wat Eduardbereid is om vir hom te doen, kan hy nie help om soms oorweldig te word deur die gedagte dat iets dalk mag skeefloop nie. “Dit is vir my baie belangrik dat my broer oukei sal wees.”
Waarna hy die meeste uitsien, is om weer normaal te kan leef. “Ek gaan vry wees om rond te reis en te doen wat ek wil omdat my lewe nie meer deur dialise beheer word nie.”
Me. Tietz sê mense wat geld wil skenk vir die Piechazeks se mediese uitgawes, kan ’n inbetaling doen by die volgende rekening:
Daniela Medical Trust, Nedbank Namibië, takkode 461609, rekeningnommer 11010022195, met die verwysing “MIRACLE”.
Dié trust (Nr. T382/07) is by die Hoërhof in Namibië geregistreer.