
Eduard en Gustav Piechazek
DIE 21-jarige Eduard Piechazek wat verlede week sy nier aan sy siek ouboet, Gustav (24), geskenk het, is reeds uit die Christaan Barnard Gedenkhospitaal in Kaapstad ontslaan en hy keer Donderdag na Windhoek terug.
Intussen sterk Gustav baie goed aan en hy kon reeds vanuit die intensiewesorgeenheid na ’n afsonderingsaal in dié hospitaal oorgeplaas word.
“Die dokters is baie in hul skik met die oorplantingsoperasie. Hulle sê my nier wat in Gustav oorgeplant is, werk perfek. Nou moet ons net duim vashou dat sy liggaam nie die nuwe nier verwerp nie. Ons behoort teen die naweek te weet of dit sal gebeur of nie,” het Eduard gister uit Kaapstad vertel.
Hy sê hoewel hy nog baie pyn het, voel hy andersins goed. “Ek sal dalk al volgende week weer kan begin werk.”
Eduard werk by ’n motorverhuringsmaatskappy en studeer deeltyds regte aan die Universiteit van Namibië. Hy het toe hy mondig geword het, besluit om sy nier te skenk sodat sy broer ’n beter lewe kan hê.
Gustav het in 1987 op ouderdom 21 maande die jongste nieroorplantingspasiënt in Afrika geword. Hoewel hy vir sowat 15 jaar daarna ’n gesonde kind was, moes hy op 17-jarige ouderdom weer dialise kry toe sy liggaam die skenkersnier verwerp het.
Sy nierversaking het nie net sy lewe bedreig nie, maar dit ook vir hom onmoontlik gemaak om soos ander jongmense te leef. Hy kon nie ’n voltydse werk aanvaar nie en was weens die dialise drie dae per week buite aksie.