
Pandu se ma gebruik hom glo al jare om geld in te samel en wys enige hulp buiten geldelike bystand gou van die hand om te keer dat die gans wat vir haar goue eiers lê, weggeneem word.
GISTER se berig oor ’n ma se oënskynlik skaamtelose misbruik van haar verbrande kind vir bedelary, het die spreekwoordelike kat in die hoenderhok losgelaat.
Talle mense het Republikein gebel om te vertel van hul ontmoetings met Pandu Musenge (6) en hoe hulle geld aan sy ma gegee het.
Pandu was skaars ’n week oud toe sy gesig verbrand het en hy geskend gelaat is. Sy neus, lippe en ooglede is deur die vlamme verteer en Elizabeth Ndjamba, sy ma, vertel deur ’n tolk dat hy nie kan skool toe gaan nie omdat ander kinders hom oor sy gesig terg.
Een inbeller was sy onderwyseres, me. Rose-Mary Falk, bestuurder van Hand-in- Hand sentrum vir minder bevoorregte kinders in Okahandja Park.
“Dit is nonsens,” sê sy oor die beweerde spottery. “Nie een van die ander kinders het hom al ooit gespot nie.
“Pandu speel saam met enigiemand en hy is ’n pragtige, liefdevolle seuntjie en ons almal is lief vir hom.”
Hy was sedert Donderdag afwesig en mense het aangeneem dat Ndjamba nou weer met hom van deur tot deur loop om geld te bedel.
Falk sê die seuntjie word gereeld siek omdat hy heeltyd deur sy mond moet asemhaal. Omdat hy nie die nodige mediese sorg ontvang nie, kry hy ook gereeld infeksies in sy gesig.
Die Kinderwet van 1960 bepaal dat ’n ouer of voog aan ’n oortreding skuldig is indien ’n kind onnodig aan lyding blootgestel word. Op grond hiervan word aangevoer dat Ndjamba vanweë haar optrede vervolg kan word.
“Die kind is in gevaar. Dit kom neer op mishandeling,” het me. Joyce Nakuta, die adjunkdirekteur van kindersorg in die direktoraat Kinderwelsyn van die Ministerie van Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn gesê.
Hand-in-Hand word deur maatskappye in Duitsland geborg en Falk sê verskeie dokters het al aangebied om hom te opereer. Hulle skenk ook gereeld kos en klere aan die ma en seun.
Die sentrum het al so ver gegaan as om vir haar ’n doktersafspraak op Rundu te reël waar die taalgrens nie ’n beperking is soos in Windhoek die geval kan wees nie. Al wat sy moes doen, was om vervoer te betaal en selfs dit is toe deur iemand geborg. Soos elke keer voor dit, het Ndjamba skielik spoorloos verdwyn.
“Hierdie vrou is skaamteloos. Sy gebruik Pandu as haar inkomste,” het Falk gesê.
’n Ander “slagoffer” van Ndjamba vertel dat hulle bereid was om ’n vliegtuigkaartjie vir Pandu en sy ma te koop sodat hulle hulp in Suid-Afrika kan ontvang, maar sy het dit van die hand gewys en gesê sy wil eerder die geld hê.
Die bekende plastiese chirurg, dr. Susan Kruger, het vertel dat sy al byna twee jaar van Pandu bewus is, maar die ma het nog nooit opgedaag sodat sy hom kan ondersoek nie.
Kruger sê dit moet baie duidelik gestel word dat geen sent onkoste vir die ma by die rekonstruksiewerk betrokke is nie. Die staat dra 100% van die hospitaalkoste en die dokters tree as vrywilligers op.
Volgens bronne in die Sentrale Hospitaal is die Minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, dr. Richard Kamwi, persoonlik bewus van hierdie geval en die staat het al menige male probeer ingryp, maar alle pogings het op niks uitgeloop nie omdat Ndjamba verdwyn wanneer iemand sodanige hulp aanbied.
Pandu sou gister ondersoek word, maar die afspraak is tot vandag uitgestel. Hy sal ’n pasiënt van dr. Kruger wees.