
Pandu word al vir jare deur sy ma, Elizabeth, gebruik om geld van goedgunstiges te vra. Nadat ondersoek ingestel is, het dit bekend geword dat die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste reeds telkemale mediese hulp aangebied het. Elizabeth het versuim om daarop te reageer omdat dit klaarblyklik die kraantjie van bedelary waarvan sy en Pandu afhanklik is, sou toedraai.
’n MA van ’n erg verminkte seun wat vir ses jaar lank van deur tot deur geloop het om geld te bedel, is Vrydag uitgevang toe dit aan die lig gekom het dat die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste reeds lank gelede onderneem het om mediese hulp aan die seun te gee.
Hopelik sal Pandu, wie se geskende gesiggie die bron van inkomste vir sy ma was, nou eindelik hulp ontvang. Hy sal vanoggend by die Katutura Hospitaal deur ’n plastiese chirurg ondersoek word om te bepaal wanneer rekonstruksie kan begin.
Phandu Musenge was nog nie eens ’n week oud nie, toe sy gesig verbrand het. Sy neus, lippe en ooglede is weggebrand en ook die vingertjies van sy regterhand wat hy gebruik het om die vlamme dood te slaan.
Vrydagoggend het sy ma, Elizabeth, na Republikein en sy susterskoerant, Namibian Sun, se kantoor gekom om finansiële hulp te vra sodat Pandu ’n operasie kan ondergaan wat dit makliker sal maak om asem te haal. Sy kan geen Engels of Afrikaans praat nie en ’n tolk het verduidelik dat sy van die noorde van die land kom, maar nou in Okahandja Park woon. Sy loop met ’n kollektelys deur die strate en maak staat op mense se goedgunstigheid.
Republikein het besluit om ’n persoon van die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste te kontak wat gesê het dat die ma en haar kind na die Sentrale Hospitaal geneem kan word om onmiddellike hulp en leiding te ontvang.
Operation Smile van Suid- Afrika in samewerking met die Ministerie was juis die dag besig om kinders te identifiseer wat in April korrektiewe operasies sal ondergaan.
Met die intrapslag by die hospitaal het me. Carol Semedo, die bestuurder van die Nampharm Stigting wat by Project Smile betrokke is, dadelik vir Elizabeth en Pandu herken en aan haar gevra waarom sy nooit teruggekom het sodat Pandu gehelp kan word nie. Volgens haar het die Ministerie reeds goedgekeur dat die seuntjie hulp kan kry.
Al wat Elizabeth moes doen, was om die regte papierwerk waaroor sy reeds beskik, in te handig. Semedo vertel dat sy vir ure by die afgespreekte plek gewag het vir Elizabeth om op te daag.
“Ek het nie taxigeld gehad nie,” het Elizabeth aan die tolk gesê.
Semedo het ook vertel dat aptekers haar al in die verlede gekontak het terwyl Elizabeth medisyne vir haar seuntjie gekoop het. Wanneer sy dan Semedo se naam hoor, het sy met Pandu verdwyn.
Terwyl die gesprek plaasgevind het, het Elizabeth op mense geskree en hulle van rassisme beskuldig.
’n Verpleegster het aan haar gevra waar Pandu se klere is. Sy het ’n netjiese hempie uit haar handsak gehaal en die seuntjie aangetrek wat heeltyd kaalbolyf rondgeloop het.
Die Nampharm bestuurder het Elizabeth daarna na haar huis geneem waar sy saam met haar skoonsuster en broer woon.
Volgens bronne was die skoonsuster hoogs ontsteld toe sy hoor dat Pandu steeds gebruik word om geld mee te bedel.
Die ma het glo op die ou einde ingestem om haar seun te laat opereer, op voorwaarde dat Semedo vir haar ’n werk kry aangesien hulle dan die gans wegneem wat vir haar die goue eiers lê.
Op die vraag of ’n maatskaplike werker nie kan ingryp nie, het hospitaalpersoneel gesê dat die ma Pandu se wetlike voog is en omdat hy nie honger of siek is of in pyn verkeer nie, is die regsituasie baie ingewikkeld.
Navraag oor die bankrekening waarin die geld van barmhartige samaritane inbetaal word, het bevestig dat daar heelwat aktiwiteit daarop is en buiten vir Elizabeth, het ene Daleen Naomi Amos ook tekenregte.
Elizabeth beweer dat Amos ’n vrou van die Otjozondjupa-streekraad is wat glo in 2009 ’n brief uitgereik het waarin hulle mense en organisasies aanmoedig om aan Pandu finansiële hulp te verleen. By navraag by die streekkantoor was nie Otto Ipinge, voormalige burgemeester van Otjiwarongo, óf nog ’n amptenaar van Pandu of Amos bewus nie.