
Josephine in Desember voordat sy en haar ma, me. Lavinia Kandjibi, na Durban vertrek het.
KLEIN Josephine Kandjala (1) van Gobabis, kan die wêreld nou vierkantig in die oë kyk nadat die buitengewone skedelgebrek waarmee sy gebore is, met behulp van ’n operasie reggestel is.
Josephine is kort voor Kersfees verlede jaar na Durban geneem waar ’n span van vyf chirurge vir byna vier ure lank aan haar kop geopereer het.
Sy het aan ’n toestand gely waar ’n gaping in die skedel tydens die fetus se ontwikkeling in die baarmoeder ontstaan. Dit het tot gevolg dat breinvloeistof en -weefsel binne ’n membraan by die skedel uitsteek wanneer die baba gebore word. Een uit ongeveer 5 000 babas wêreldwyd ly aan dié afwyking.

Josephine is nou ’n gesonde, eenjarige kind na sy ’n lewensveranderende operasie in Suid-Afrika ondergaan het.
Project Smile, wat kinders met gesiggebreke help, het in samewerking met die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste besluit om hulp te verleen. Dit is vasgestel dat sy nie in Namibië geopereer sou kon word nie en dus het sy en haar ma, me. Lavinia Kandjibi, na Durban gereis. Die NamPharm-stigting het alle reis- en verblyfreëlings vir hulle getref.
Haar ma vertel dat Josephine voorheen uit die hoeke van haar oë geloer het om verby die knop op haar kop te sien en sy het ook moeilik asemgehaal. Na die operasie kan sy normaal kyk en dit gaan goed met haar.
Volgens me. Scarlett Steer, hoof van Operation Smile se World Care-program, is Josephine en haar ma weens die kind se gebrek deur die gemeenskap verstoot.
Kandjibi sê dat hul familie hulle nie meer wou sien nie. Selfs Josephine se pa het hulle heeltemal verwerp.
Josephine sou nooit skool toe kon gaan of ’n normale lewe kon lei as sy nie dié operasie ondergaan het nie.