
Eddie Piechazek (21) gister met sy terugkoms uit Kaapstad.
AL het Eduard (Eddie) Piechazek die woorde “champ” en “hero” die afgelope paar weke verskeie kere gehoor, beskou hy homself nie as ’n held nie. Hy is net dankbaar dat hy deur sy nier te skenk,’n einde kon bring aan die dialise-hel waardeur sy ouboet, Gustav (24), die afgelope sewe jaar moes gaan.
Eddie (21) het gister uit Kaapstad teruggekeer waar een van sy niere tien dae gelede in Gustav oorgeplant is.
“Dit gaan baie goed met Gustav. Hy loop al in die hospitaal rond en sal heel moontlik die naweek ontslaan word. Die dokters sê sy kreatien-telling is soos dié van iemand met perfekte, gesonde niere.”
Volgens Eddie was hy nie net ’n 99 persent pasmaat vir die skenking nie, maar is sy nier wat in Gustav oorgeplant is boonop 2 cm groter as die normale 10 cm. Verskeie mense het die afgelope dae in die Christiaan Barnard Gedenkhospitaal in Kaapstad na hom gekom en vir hom gesê hy is ’n held.
“Een man het na my gekom en gesê hy het in ’n koerant in die Kaap gelees wat ek vir my broer gedoen het. Hy het vir my gesê dit is ’n ware heldedaad.”
Gustav het reeds as ’n baba nierversaking opgedoen. Ná maande in ’n Suid-Afrikaanse hospitaal is ’n geskikte skenker uiteindelik gevind en Gustav het in 1987 op die ouderdom van 21 maande die jongste nieroorplantingspasiënt in Afrika geword. Sy liggaam het dié nier egter verwerp toe hy sewentien jaar oud was. Daarna moes hy drie keer per week vir dialisebehandeling gaan.
“Hy kon nooit met vakansie gaan of selfs net vir ’n naweek Swakop toe ry nie. En omdat hy Maandae, Woensdae en Vrydae buite aksie was, kon hy nooit ’n voltydse werk aanvaar nie. Nou gaan alles anders wees.”
Eddie se nier is regs voor in Gustav se liggaam oorgeplant en hy sal wel in die toekoms versigtig moet wees om nie ’n harde hou of stamp van voor te kry nie. Hy sal ook in die algemeen goed na sy gesondheid moet omsien. Eddie sê howel hy nog pyn het en moeilik loop, het hy eweneens baie goed van die operasie herstel.
Intussen het die Daniela Medical Trust wat geld insamel vir die Piechazeks se mediese koste, bekendgemaak dat die fonds reeds op N$25 000 staan. Hoewel die familie oor ’n mediesefonds beskik, sal hul betaling N$100 000 beloop.
Mense wat ’n bydrae wil maak, kan geld by die volgende rekening inbetaal: Daniela Medical Trust, Nedbank Namibia, takkode 461609, rekeningnommer 11010022195, met die verwysing “MIRACLE”.
Die trust (Nr. T382/07) is by die Hoërhof in Windhoek geregistreer.