Mishandeling kan bose kringloop vorm

SEKSUELE mishandeling, ook molestering genoem, is die gedwonge, ongewenste seksuele gedrag deur een persoon op ’n ander. Wanneer die dwang onmiddellik, van korte duur of ongereeld geskied, word dit genoem seksuele aanranding met die opset om te verkrag.

Na die oortreder word as ’n seksuele mishandelaar of (dikwels verkleinerend) molesteerder verwys. Die term sluit ook enige soort gedrag in deur enige volwassene teenoor ’n kind om óf die volwassene óf die kind seksueel te stimuleer. Indien die slagoffer jonger is as die toestemmingsouderdom, staan dit bekend as seksuele mishandeling van kinders.

Kinders en elke persoon wat gemolesteer word, het ’n verhoogde risiko om met MIV/ vigs geïnfekteer te word. Mishandeling vergroot nie net die mishandelaar nie, maar ook die slagoffer se seksnetwerk. Jong kinders wat moontlik nie voorheen deel was van ’n seksnetwerk nie, is dan onder dwang deel daarvan gemaak.
MagsposisiesSeksuele wangedrag word aangetref waar een persoon ’n posisie van gesag gebruik om ’n ander persoon te dwing om deel te wees van ’n andersins ongewenste seksuele aktiwiteit.

Seksuele teistering in die werkplek is byvoorbeeld waar ’n werknemer in ’n seksuele situasie beland uit vrees vir afdanking.

Seksuele teistering in onderrig kan wees waar ’n student deur ’n onderwyser of dosent seksueel misbruik word uit vrees vir opsetlike druiping van toetse en eksamens deur die persoon in die magsposisie.

Hierdie is egter nie die enigste soorte mishandeling nie.
Tipes seksuele mishandeling• Nie-konsensueel, gedwonge fisiese seksuele gedrag (verkragting).

• Ongevraagde betasting van óf ’n kind óf ’n volwassene.

• Seksuele soene, betasting, ontbloting van geslagsdele of afloerdery.

• Die blootstelling van ’n kind aan pornografie.

• Seksueel suggestiewe opmerkings teenoor ’n kind is ook kindermolestering.

• Die misbruik van ’n vertrouensposisie om andersins ongewenste seksuele aktiwiteit sonder die gebruik van fisiese forsering af te dwing.

• Bloedskande.
Seksuele mishandeling in ’n huwelikSeksuele mishandeling van kinders is ’n vorm van kindermishandeling waar ’n kind mishandel word vir die seksuele bevrediging van ’n volwassene of ouer jeugdige.

Benewens seksuele kontak, kom seksuele mishandeling van kinders ook voor wanneer ’n volwassene onbetaamlik sy of haar geslagsdele aan ’n kind ontbloot, ’n kind vra of druk op die kind plaas om aan seksuele aktiwiteite deel te neem, ’n kind aan pornografie blootstel of ’n kind gebruik vir die skep van kinderpornografie.

Gevolge van seksuele mishandeling van kinders sluit in skuld, selfblaam, terugflitse, nagmerries, slapeloosheid, vrees vir dinge wat met mishandeling verbind kan word (insluitend voorwerpe, reuke, plekke, doktersbesoeke en dies meer), probleme met selfvertroue, seksuele disfunksie, chroniese pyn, verslawing, selfbesering, ideevorming van selfmoord, liggaamsklagtes, depressie, post-traumatiese stressindroom, angs, ander geestestoestande (insluitend grenslyn persoonlikheidsindroom en dissosiasie identiteitsindroom), geneigdheid tot herviktimisering in volwassenheid en fisiese besering van die kind.

Seksuele mishandeling deur ’n familielid is ’n vorm van bloedskande en kan meer ernstige en langtermyn psigologiese trauma tot gevolg hê, veral in die geval van bloedskande deur ouers gepleeg. Volgens internasionale statistieke is ongeveer 15% tot 25% van vroue en 5% tot 15% van mans wêreldwyd as kinders seksueel gemolesteer.

Die meerderheid sulke oortreders is bekend aan hul slagoffers; sowat 30% is familie van die kind, in die meeste gevalle is dit pa’s, ooms of neefs; omtrent 60% is ander kennisse, soos familievriende, kinderoppassers of bure; net in ongeveer 10% gevalle van seksuele mishandeling van kinders is die oortreders vreemdelinge.

Seksuele mishandeling van kinders word meestal deur mans gepleeg; vroue is skuldig aan ongeveer 14% van die oortredings teenoor seuns wat aangemeld is en 6% van die oortredings teenoor meisies wat aangemeld is.

Oortreders wat kinders mishandel wat nog nie puberteit bereik het nie, word as pedofiele geklassifiseer, hoewel ’n geringe persentasie nie aan die diagnostiese vereistes van pedofilie voldoen nie. Seksuele mishandeling van mense met ontwikkelingsgestremdhede Mense met ontwikkelingsgestremdhede is dikwels slagoffers van seksuele mishandeling.

Volgens navorsing loop mense met gestremdhede ’n groter risiko om aan seksuele aanranding of mishandeling onderwerp te word, as gevolg van ’n begripstekort. Die koers waarteen mense met gestremdhede seksueel misbruik word, is skokkend en tog bly vele gevalle onaangemeld.

Nog ’n tipe mishandeling wat al meer kop uitsteek, is emosionele mishandeling. Emosionele mishandeling is enige tipe mishandeling wat eerder emosioneel as fisies van aard is.

Dit kan enigiets insluit van mondelinge mishandeling tot konstante kritiek tot meer subtiele taktieke, soos herhaalde afkeuring of selfs die weiering om ooit tevrede gestel te word. Emosionele mishandeling is soortgelyk aan breinspoeling omdat dit sistematies begin vreet aan die slagoffer se selfvertroue, sin van eiewaarde, vertroue in hul eie persepsies en selfkonsep.

Hetsy dit gedoen word deur konstante slegsêery en verkleinering, deur intimidasie of onder die dekmantel van “leiding,” “onderrig” of “raad,” is die gevolge soortgelyk.

Uiteindelik verloor die ontvanger van die mishandeling alle sin van eiewaarde. Emosionele mishandeling sny deur tot by die diepste wese van ’n persoon en laat letsels wat veel dieper is en langer voortduur as fisiese letsels. Tipes emosionele mishandeling sluit onder meer aggressie, dominering, emosionele afpersing en mondelinge aanvalle in.

Aggressiewe vorms van mishandeling sluit in belediging, beskuldiging, blaam, dreiging en bevele uitdeel. Aggressiewe mishandeling kan ook ’n meer indirekte vorm aanneem en vermom wees as “hulp.”

Kritisering, advisering, die aanbied van oplossings, ontleding, bewyslewering en om ’n ander persoon te bevraagteken mag opregte pogings wees om te help. In sommige gevalle is hierdie gedrag egter pogings om die ander persoon te verkleineer, te beheer of te skaad, eerder as om hom of haar te help.

Dominering is wanneer iemand elke beweging van jou wil beheer. Die ander persoon wil heeltyd sy of haar sin hê en sal jou selfs dreig om dit te kan kry. Wanneer jy toelaat dat iemand jou domineer, kan jy jou selfrespek verloor. Emosionele afpersing is wanneer die ander persoon op jou vrese, skuld, waardes en gevoel speel om te kry wat hy of sy wil hê.

Dit kan dreigemente insluit om die verhouding te beëindig, om jou af te skryf of jou die rug te keer of vreesaanjaende taktieke te gebruik om jou te beheer. Mondelinge aanvalle sluit in slegsêery, verkleinering, kritisering, belediging, gal afgaan, dreigemente, oordrewe blamering, sarkasme en vernedering.

Die persoon geniet dit ook om jou foute uit te wys en erger te laat klink as wat dit is en om voor ander mense met jou die spot te dryf. Hierdie tipe mishandeling kan oor ’n tydperk veroorsaak dat jy al jou selfvertroue en eiewaarde verloor.
Hoe begryp mens mishandelende verhoudings?Niemand vra om in ’n mishandelende verhouding te wees nie, maar individue wat as kind mondelings mishandel is deur ’n ouer of iemand anders, bevind hulself dikwels in soortgelyke omstandighede as volwassene.

Indien ’n ouer gepoog het om jou ervarings en emosies te omskryf en om jou gedrag te beoordeel, het jy moontlik nie die kans gehad om te leer hoe om jou eie standaarde te stel nie, jou eie sienings te ontwikkel en jou gevoelens en persepsies te staaf nie.

Daarom voel die beheer en voorskryf van iemand wat jou emosioneel mishandel, bekend of selfs gemaklik, al is dit afbrekend. Slagoffers van mishandeling sukkel dikwels met gevoelens van magteloosheid, seerkry, vrees en woede.

Mishandelaars het ook dikwels in emosioneel mishandelende omgewings grootgeword en hulle leer om ook so op te tree as ’n manier om hul eie gevoelens van magteloosheid, seerkry, vrees en woede te hanteer.

Sommige mishandelaars voel sterk aangetrokke tot mense wat hulself as hulpeloos beskou of wat nog nie geleer het hoe om hul eie gevoelens, persepsies of sienings as waardig te ag nie.

Dit stel die mishandelaar in staat om meer in beheer te voel en dit te vermy om aan hul eie gevoelens en persepsies gehoor te gee. Slagoffers van emosionele mishandeling kan so oortuig raak dat hulle waardeloos is dat hulle glo niemand anders sal met hulle in ’n verhouding wil wees nie.

Hulle bly aan in die mishandelende situasies omdat hulle glo hulle het geen ander heenkome nie. Hul grootste vrees is om alleen te wees.

Kategorie: