24.08.2010 Kondoomfabriek kry gehaltesertifikate
 Van links is Adjunkminister Tjekero Tweya van Handel en Nywerheid, mnr. John Maritz (eienaar) en me. Sabina Maritz (menslike hulpbronbestuurder) van Commodity Exchange.
COMMODITY Exchange, ’n Namibiese kondoomvervaardiger, het twee sertifikate van die ISO (Internasionale Organisasie van Standaardisering) ontvang.
Die ISO 9001:2008- en die ISO 13485: 2003- sertifikate is erkenning dat aan die spesifikasievereistes van gehaltebeheer voldoen is. Eersgenoemde sertifikaat verwys na die vereiste om in kliënte se behoeftes te voorsien en die tweede erken mediese veiligheid en doeltreffendheid.
Commodity Exchange is deur National Quality Assurance United Kingdom (NQA-UK) gesertifiseer wat deur United Kingdom Accreditation (UKAS) geakkrediteer is. Die NQA is een van die grootse akkreditasieliggame ter wêreld met meer as 14 000 geregistreerde kliënte wêreldwyd.
Die Adjunkminister van Handel en Nywerheid, mnr. Tjekero Tweya, het gesê hy glo “enigiets wat ’n land gebruik, moet hy kan maak.” Hy meen Commodity Exchange volg die regte denkrigting om die Regering se Visie 2030 doelwitte te verwesenlik.
Volgens hom is dit belangrik vir Namibië om produkte soos kondome self te produseer en sodoende die verspreiding van MIV/vigs te help voorkom. “Dit is nie net goed vir die bevolking nie, maar kan tot werkskepping lei. As die kondome in Namibië vervaardig word, verminder dit die koste van verspreiding en die kondome kan volgens die kliënte se behoeftes gemaak word.”
Verteenwoordigers van Commodity Exchange meen die ontvangs van die twee sertifikate behoort ook die maatskappy se kliënte gemoedsrus te gee en bevoordeel die maatskappy in die bemarking van sy produkte. ’n Afvaardiging vertrek juis die week na Suid- Afrika om vir SABS- sertifisering aansoek te doen, sodat die produk na die suidelike buurland uitgevoer kan word.
Commodity Exchange verskaf werk aan 50 mense, van wie 37 permanente en 13 tydelike aanstellings is.
Die Adjunkminister is ook op ’n toer deur die vervaardigingsfasiliteite vergesel. Al die masjinerie wat die gehalte van die produk toets, is aan hom gewys met verduidelikings van hoe die proses werk.
|