MET die inentingsveldtog teen masels in die Oshikoto-streek pas agter die rug, maak die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste gereed vir ’n ander groot gesondheidsuitdaging.
Dit is om die mees kwesbare mense in die land teen pandemiese A/H1N1-griep in te ent. Die entstof wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ingevolge die wêreldwye bestrydingsplan aan Namibië beskikbaar gestel het, behoort teen einde Maart in die land aan te kom.
Namibië sal met hierdie entstof 10 persent van sy bevolking, oftewel 220 000 mense, kan inent. Dié mense wat die meeste kwesbaar is, soos gesondheidswerkers, swanger vroue en mense met chroniese siektetoestande, sal eerste in aanmerking kom.
Pandemiese A/H1N1-griep, ook bekend as menslike varkgriep, het verlede jaar in Mei in Mexiko uitgebreek en binne weke na byna alle dele in die wêreld versprei. Namibië het in Julie verlede jaar sy eerste geval van hierdie griep gediagnoseer, waarna nog 69 mense die griepvirus opgedoen het.
Een sterfgeval is ook aangemeld. Ofskoon die pandemie intussen in felheid afgeneem het, het die direkteur-generaal van die WGO, dr. Margaret Chan, op 23 Februarie bekendgemaak dat sy nie die waarskuwingstatus gaan wysig nie.
Dit beteken gesondheidsowerhede wêreldwyd bly op hul hoede. Die rede daarvoor is dat ’n volgende golf van die griep die wêreld kan tref wanneer die wintermaande in die Suidelike Halfrond aanbreek.
Dr. Jack Vries, voorsitter van die nasionale gereedheidskomitee vir gesondheidsnoodtoestande, sê die inentingsplan teen A/H1N1 sal Donderdag deur die komitee bespreek word.
Intussen is hy vol hoop dat met die afhandeling van die laaste van die reeks inentingsveldtog teen masels, die greep wat dié siekte die afgelope maande op veral die noorde van die land gehad het, sal verslap.
Die Onandjokwe-gesondheidsdistrik in die Oshikoto-streek was die laaste van die maselsgeteisterde gebiede in die Noorde waar ’n inentingsveldtog ingespan is om die gevreesde kindersiekte onder beheer te bring. Die ander veldtogte was in die gesondheidsdistrikte van Opuwo, Rundu en Outapi.