20.08.2010 Entstof keer glo kanker
 Sr. Nellie Coetzee, betrokke by die Kankervereniging, en mnr. Jacques van Zyl, landwye bestuurder van GlaxoSmithKline.
’n ENTSTOF teen servikale kanker vir vroue is nou teen ’n meer bekostigbare prys beskikbaar.
GlaxoSmithKline, die maatskappy wat die entstof aan dokters en aptekers verskaf, het aangekondig hulle die prys met 50 persent verminder het.
Die prysverlaging is tans in werking en die entstof is landwyd beskikbaar.
Al meer vroue word met servikale kanker gediagnoseer en naas bors- en longkanker is servikale kanker die kanker wat wêreldwyd die meeste sterftes veroorsaak.
Servikale kanker word deur die menslike papilloma virus (HPV) veroorsaak en meer as ’n honderd tipes van die virus is in omloop.
Volgens mnr. Jacques van Zyl, landwye bestuurder vir GlaxoSmithKline, glo die maatskappy dat dit elke vrou in die land se reg is om die entstof te kry.
Mnr. Van Zyl het gesê deur die prysverlaging aan die publiek bekend te maak, hoop hulle dat meer vroue hul dokter sal nader om die inenting te kry.
Sr. Nellie Coetzee van die Kankervereniging raai vroue aan om die inenting te kry, maar sê dat hulle steeds een keer per jaar vir papsmere moet gaan. Op die wyse verlaag vroue hul kanse om servikale kanker op te doen.
Die entstof is al vir om en by twee jaar in Namibië beskikbaar, maar weens die prys was dit nie vir almal beskore nie.
Die behandeling bestaan uit drie inspuitings en kan aan vroulike pasiënte vanaf 10-jarige ouderdom gegee word. Na die eerste inspuiting is die volgende een ’n maand later en vyf maande daarna moet die pasiënt vir haar laaste inspuiting gaan.
Die inenting is net in die private sektor te kry en nie by staatshospitale of klinieke nie en die aanbod is slegs in Namibië geldig.
Vir verdere inligting kan vroue hul naaste dokter of apteker kontak.
|