20.01.2012 Egpaar saam op operasietafel
 Piet en Liezl van Schalkwyk voor hul vertrek na Bloemfontein waar Liezl tydens ‘n ses uur lang operasie ’n nier gaan skenk en Piet die nier sal ontvang.
“EK het die kans om my kinders se pa vir hul terug te gee en ek kan weer my man terugkry.”
Dit was vir die dapper Liezl van Schalkwyk van Windhoek genoeg motivering om te besluit om as nierskenker vir haar man, Piet, op te tree.
Piet ly aan ’n geneties oorerflike nierverwante siekte waaraan sy pa op 51-jarige ouderdom gesterf het en wat ook aan Piet en Liezl se twee seuns oorgedra is.
Die Van Schalkwyks, wat vroeg in Januarie hul 19de huweliksherdenking gevier het, het Woensdag na Bloemfontein vertrek waar hulle albei aanstaande week gelyktydig in die operasiesaal sal wees – Liezl as skenker en Piet as ontvanger.
Piet se siekte is iets wat veral die afgelope twee jaar ’n geweldige invloed op hul gesin gehad het. Sy gesondheid het sodanig verswak dat hy sedert Maart verlede jaar weekliks vir dialise-behandeling by die Windhoek nier- en dialisesentrum moes aanmeld.
Buiten dat dit beteken dat die gesin nie op lang uitstappies of vakansies kon gaan nie, het die seuns veral die pa gemis wat so betrokke by hul doen en late in veral sport was.
Hy was gedurig baie moeg, sonder enige eetlus en naar, veral na hy ’n dialise-sessie ondergaan het, vertel Piet. En vir Liezl het dit beteken sy moes nou die rol van albei ouers oorneem omdat haar man te siek was.
“Piet het sieker geword en ook maar moeilik en ongeduldig. Ma is gespanne omdat sy voltyds werk en vanaand weer die rol van ma en pa moet vertolk. Alles het my verantwoordelikheid geword.
“Hy was altyd baie betrokke by sy kinders en hul sport en ek dink ons kinders wil net so graag weer ’n gesonde pa by die huis hê.”
Piet was sy lewe lank bewus dat hy die siekte by sy pa geërf het en het geweet die moontlikheid bestaan dat ook hy kan siek raak. Tog het hy in hierdie tyd nooit probleme met sy niere gehad nie.
Hy het getrou die afgelope 19 jaar ’n plaaslike internis besoek wat die siekte fyn dopgehou het. Die afgelope vyf jaar moes Piet egter maandelikse besoeke ondergaan.
Professor Oosthuizen, die internis, het intussen met ’n medeprofessor in Bloemfontein begin konsulteer vir ’n moontlike nieroorplanting vir Piet nadat bevind is dat sy niere onherstelbaar beskadig is en uiteindelik tot nierversaking gaan lei.
In 2009 het die wiele vir die skenkingsproses stadig maar seker begin rol. Namibië beskik oor geen skenkers- of ontvangerslyste vir organe nie, terwyl Namibiese boorlinge ook nie in aanmerking kan kom vir ’n plek op buurland Suid-Afrika se lyste nie.
’n Geskikte skenker word altyd eers in die ontvanger se bloedfamilie gesoek omdat die kans vir ’n geskikte pasmaat in die geval baie goed is. Omdat Piet se twee susters egter ook die siekte by hul pa geërf het, het dit hulle onmiddellik as skenkers uitgeskakel, terwyl sy ma weer te oud is.
Liezl, wat dieselfde bloedgroep as haar man het, het in Windhoek ’n reeks toetse, waaronder weefseltipering, bloed- en teenverwerpingstoetse ondergegaan om haar geskiktheid as skenker te bepaal. Die uitslag was positief en die keer moes sy Bloemfontein toe vir nog toetse. “Van die vereistes is ook dat jou hart en organe in ’n goeie toestand is en dat jy geen ander kwale het nie. Dit moet geen risiko vir die skenker inhou nie,” het sy gesê.
Omdat Liezl nie ’n familielid is nie en die ontvanger se vrou is, is die skenking soveel te meer sensitief en uniek en hou dit op ’n emosionele vlak groot implikasies in. “Die risiko hieraan verbonde, is dat ons kinders albei hul ouers kan verloor. Ek en Piet moes verskeie sielkundige evaluasies deurgaan.”
Die Suid-Afrikaanse ministerie van gesondheid het in September verlede jaar na ’n goedkeuringsproses wat nege maande geduur het, die groen lig vir die oorplanting gegee. Volgens Liezl is dit nodig omdat hulle buitelanders is, sy ’n lewende skenker is en dat daar nie enige geld by die skenking betrokke was nie.
Die oorplanting is egter in die wiele gery omdat Piet se niere teen hierdie tyd so vergroot het, dat daar nie plek was om sy vrou se gesonde nier in hom oor te plant nie. In Oktober is sy een nier, wat toe reeds tussen 5 en 6 kilogram geweeg en sowat 30 cm groot was, tydens ’n operasie in Bloemfontein verwyder.
Liezl vertel dat haar man vir sewe dae in die intensiewesorgeenheid was en eers na 11 dae ontslaan is. Sedertdien het hy drie keer weekliks dialise-behandeling by die sentrum in Windhoek ontvang.
Vir die personeel hier is Piet en Liezl vol lof. “Die susters wat hier werk, is lieflik en werk ses dae per week. Die sentrum spog ook met die beste dialisemasjiene in die mark.”
Vir Piet het die pasiënte wat saam met hom die dialisepad stap, soos vriende en familie geword. “Jy raak lief vir die mense.”
Liezl en Piet is vir ses weke in Suid-Afrika en dit is vir albei swaar om so lank van hul seuns weg te wees. Dit was egter ’n bewustelike besluit van die ouerpaar om die oorplantings- en skenkingsoperasies en ook die herstel daarna van hul seuns weg te hou.
Liezl se suster en man staan vir die ses weke in as surrogaatouers totdat ma en pa weer terug is. “Sy siekte het al so baie van ons kinders gevat. Met Piet se vorige operasie was hulle die dag stil en eenkant. Omdat hulle dieselfde siekte het, wil ons hulle ook nie nou al verder blootstel aan en konfronteer met die aaklige werklikheid en gevolge daarvan nie.”
Op die vooraand van die oorplanting erken Liezl sy raak nou bang. “Die lewensverwagting van die skenker bly na afloop van die operasie dieselfde. Jy moet maar net jou eetgewoontes en leefstyl aanpas. Maar natuurlik is ek bang, ek het twee kinders om aan te dink.”
Vir Piet beteken die oorplanting ’n toekomsvisie, hoop vir eendag. “Ek het nie een gehad nie. Toe ek egter weet ek het nou ’n skenker, toe weet ek die dialise is net tydelik, dit gaan ook verby.”
Die eerste ding wat die Van Schalkwyks gaan doen as ma en pa weer op die been is, is om vir die eerste keer in jare ordentlik te gaan vakansie hou. “Met Piet wat drie keer per week moes aanmeld vir behandeling en daarna so moeg en pap was, was dit net nie moontlik nie.”
Die Van Schalkwyks het hul dank uitgespreek teenoor die dialisesentrum en sy personeel, die Regering se mediesefonds PSEMAS, asook Liezl se werkgewer, die Kantoor van die Ouditeur-generaal, vir hul ondersteuning. “Die Here het ons geseën met spesiale engele langs hierdie moeilike pad.”
|