ABRAHM Louw (foto), Namibië se mees belowende driekampatleet in jare en oorspronklik van Tsumeb, is gisteroggend tussen Parys en Potchefstroom ernstig beseer gelaat nadat hy van sy fiets afgery is.
Die 19-jarige Louw was in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal in Potchefstroom, maar teen gisternamiddag het sy broer Bertus, aan Republikein gesê dat sy toestand gestabiliseer het.
“My boetie se ribbes is gebreek, maar dit is net met genade dat hy nog by ons is. Dit was baie amper,” het Bertus uit Potchefstroom gesê.
Abrahm was verlede jaar ’n finalis vir Namibië se senior sportman van die jaar nadat hy onder meer silwermedaljes by die Afrikaspele in Mosambiek asook by die Singapoer Triathlon Asiëbekerbyeenkoms van die Internasionale Triathlon Unie (ITU) behaal het. In 2010 was hy vyfde by die Junior Statebondspele in Singapoer en was hy die topgekeurde junior in Afrika.
Volgens wat Abrahm aan sy familie vertel het, het hy gisteroggend gaan oefen en tussen Potchefstroom en Parys fietsgery. Die ongeluk het tussen 06:00 en 08:00 gebeur toe Abrahm vir ’n tarentaal uitgeswaai het en getref is deur ’n voertuig wat van agter gekom het.
Die bestuurder het onmiddellik stilgehou en het glo gedink hy het die tarentaal raakgery. Toe hy uitklim het hy gesien dat hy vir Abrahm raakgery het.
“Die motor het glo teen sowat 120 km per uur beweeg. Abraham se fiets is in vier of vyf stukke gevind. Sy valhelm is ook stukkend na die val,” het Bertus gesê.
Republikein kon teen saktyd nie die bestuurder vir kommentaar in die hande kry nie.
Die man het wel op die sosiale netwerk Facebook vertel dat hy in ’n ongeluk was. “Kan julle asb. ’n gebedsketting aan die gang kry vir Abrahm Louw, sy ma Annamarie, broer Bertus en suster? Dit gaan nie baie goed met hom nie en hy is kritiek in Potch in die hospitaal. Baie dankie,” het sy boodskap gelui.
Die polisie kon geen inligting verskaf nie.