DIE stryd teen masels in Namibië se mees noordelike gesondheidsdistrikte duur voort met Rundu en Outapi wat pas inentingsveldtogte voltooi het en gesondheidswerkers in Onanjokwe wat gereed maak om aanstaande week alle kinders jonger as vyf jaar teen dié kindersiekte te immuniseer.
Intussen gaan ’n helikopter volgende week na Opuwo gestuur word om die inwoners van die 29 afgeleë nedersettings te bereik wat twee weke gelede tydens die maselsveldtog in hierdie gesondheidsdistrik oorgeslaan is.
Die direkteur van gesondheid in die Kunene-streek, me. Linda Namundunga, het die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste se hoofkantoor in Windhoek versoek om so spoedig as moontlik ’n helikopter na Opuwo te stuur. Die helikopter wat tydens die veldtog ingespan is om die immuniseringspan na afgeleë gebiede geneem het, kon nie al die afgeleë nedersettings in die groot en op plekke onherbergsame distrik bereik nie.
Dr. Jack Vries, voorsitter van die nasionale gereedheidskomite vir gesondheidsnoodtoestande, sê die Ministerie sal ’n helikopter van die polisie of die weermag hiervoor inspan.
Masels het in Julie verlede jaar in die Engela-gesondheidsdistrik in die Ohangwena-streek uitgebreek. Dit het uit Angola se suidelike provinsies daarheen versprei.
Kort voor lank is gevalle ook in die Kunene- sowel as in die Khomas-streek aangemeld. Hoewel die uitbrekings in Ohangwena en Khomas deur die inenting van kinders onder vyf hokgeslaan kon word, het die uitbreking in die Kunene-streek hardnekkig voortgeduur.
Die Ministerie het ná ’n opdrag van die Kabinet toe weer ’n veldtog van stapel gestuur en dié keer ook ouer kinders en volwassenes ingeënt.
Dr. Vries het gister gesê na dese behoort masels nou landwyd onder beheer te wees.