
Eerste Minister Nahas Angula aan die woord.
SOLANK opposisiepartye klein, groepsgebaseerde klieks bly wat medeburgers oor etniese en kulturele grense heen nie met werkbare, nuwe idees kan inspireer nie, sal hulle altyd min – of selfs niks – tot die ontwikkeling van Namibiese demokrasie bydra.
Met die standpunt wou die Premier, mnr. Nahas Angula, nie by ’n openbare debat in aanloop tot vanjaar se onafhanklikheidsvieringe byt aan die idee of juis meer partye dalk nodig is om uitdrukking aan alle goeie idees in die land te gee nie.
Volgens die Eerste Minister voorspel die voortgesette ontstaan van kleiner en kleiner nuwe politieke partye niks goeds nie. Hy verstaan eintlik die verskynsel baie goed, het mnr. Angula geskerts – met werkloosheid wat so hoog is, besighede wat sluit en elke Jan Rap en sy maat wat sy of haar nedersetting met die stigting van ’n “plastiekparty” probeer oorreed om hulle op die soustrein te kry.
“Baie van die partye wat ons hier het, sal nie kwalifiseer as ons die letter en gees van die Grondwet streng toepas nie,” het die Premier selfs aangevoer. Sy motivering was dat die Grondwet in beginsel die najaag van etniese belange verbied.
’n Vraag uit die gehoor hoekom die Regering dan nie die Grondwet behoorlik toepas nie, het onbeantwoord gebly.
Mnr. Angula het wel opgemerk dat dit miskien ’n goeie ding sal wees om strenger eise vir die registrasie van politieke partye te stel – wat volgens hom sal verseker dat net organisasies wat werklik die breë publiek dien aan verkiesings kan deelneem.
“Ek sien dat hulle nou vorendag kom met koalisies,” het die Eerste Minister tong in die kies gesê. “Of dit suiwer koalisies van gerief is, weet ek nie.”
Ou en nuwe partye, het hy aangevoer, moet stukrag gee aan twee dekades gelede se visie van ’n lewenskragtige demokrasie. As dit nie die geval is nie, kan hul bestaansreg volgens mnr. Angula met goeie rede uitgedaag word.
“’n Lewendige demokrasie benodig partye met maatskaplike idees,” het die Premier benadruk. Volgens hom kan iemand byvoorbeeld maklik ’n party vir plakkers begin, sonder om ’n rasgebaseerde entiteit te word.
Mnr. Angula het groot nadruk geplaas op samewerking tussen alle Namibiërs om nuwe lewe te blaas in die ideale waarop in 1990 ooreengekom is. Hy het egter nie Republikein se vraag beantwoord of dit ook nouer samewerking tussen Swapo en die opposisie veronderstel nie.