Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

4.02.2010

Gesoek: Familie van ‘POW’ Gold

INDIEN daar iewers in Namibië nog nasate is van ene weerman Gold, ’n polisieman uit die destydse Suidwes-Afrika wat in 1944/45 in ’n Duitse krygsgevangenekamp was, sal mnr. Kobus Cronjé van Parys in Suid- Afrika graag lig wil help werp op die lot van die moontlike oupagrootjie of selfs ooroupagrootjie van iemand, êrens in die wye land.

Die verhaal van weerman Gold, jare terug aan mnr. Cronjé toevertrou deur ’n oorlede sakevennoot, is hartseer en ontstemmend, maar lewer getuienis van dapperheid wat miskien nie net die gevolg van die Tweede Wêreldoorlog se “wire happiness” was nie.

Volgens mnr. Cronjé het hy eers onlangs weer wyle Chippy Brener van die derde bataljon van die Transvaalse Skotse regiment se boekstawing van die oënskynlik totaal vergete gebeure opgediep. Brener was saam met Gold ’n krygsgevangene vir ’n vervoerband wat as deel van Stalag IV-D vanuit kampe by die Duitse stadjie Lauchhammer onder meer dwangarbeiders aan die Mitteldeutsche Stahlwerke verskaf het.

Volgens mnr. Cronjé het Chippy, of CHIPOW, soos hy homself as skrywer van “Murder so foul at Lauchhamer” (sic) noem, nooit daarby uitgekom om hom meer te vertel nie. “Wat destyds gebeur het, het hom (vir Chippy) egter verskriklik getref,” het hy telefonies uit Parys vertel. “En toe ek na soveel jaar weer die papiere kry, kon ek net nie langer stilbly nie.”

Volgens wyle Chippy het Gold, lid van ’n polisiebataljon, een goeie môre vroeg in 1945 eenvoudig geweier om op te staan, aan te trek of vir die koppetelparade aan te tree. Die rede? Hy het in ’n harde stem uitgeroep dat God hom gedurende die nag besoek en opdrag gegee het om nie langer ’n steek vir die Duitsers te werk nie! Gevangenes in dieselfde barak het geweet hulle sou almal diep in die moeilikheid wees as Gold sy sin kry.

Volgens CHIPOW is die Suidwester dus haastig in sy klere gestop en tussen ander se skouers na buite gemarsjeer vir die “appel” – en drie of vier kilometer verder na die meule waar hy agter sy masjien moes inval. Daar gekom, het Gold egter plat op sy agterstewe gaan sit.

Op die bevel “Aufstein! Aufstein!” het hy volgens Brener gou opgestaan, maar dadelik weer gaan sit sodra die wagte hul rûe draai. Die uiteinde van sy verset was genadeloos kil. Gold het volgens Chippy voor “Oberfeldwebel (peletonbevelvoerder) Koenow” beland, wat hom summier drie keer in die bors geskiet het.

Hy is die volgende dag in ’n eenvoudige houtkis op ’n perdekar iewers heen gesleep waar hy vermoedelik in ’n ongemerkte graf ter ruste gelê is, ondanks versoeke vir ’n militêre begrafnis. “En so lê Gold God-weet waar,” sluit CHIPOW se verhaal, “– in aarde wat vir altyd deel van Suid- Afrika (en sekerlik Namibië) sal wees.”

Gevangenes by Lauchhammer is in April 1945 deur die Kosakke ontset. Volgens Chippy is die moord op Gold by Britse en Suid-Afrikaanse militêre owerhede aangemeld, maar was daar behalwe vir ’n kortstondige navraag by ’n getuie rondom 1948 nooit weer ’n dooie woord oor die voorval gehoor nie.