17.02.2010 Geraamtes skud tussenverkiesing
 Mnr. Steve “Biko” Booys (links voor) tydens ’n vorige Swapo-vergadering op Okahandja.
KRIMINELE “skietgoed” teen hom, sê die Swapo-kandidaat vir volgende Woensdag se tussenverkiesing op Okahandja, maak hom juis die ideale kandidaat om misdaad te beveg en die jeug uit hierdie bose strik van armoede te hou.
Mnr. Steve “Biko” Booys voer aan dat sy misdaadrekord absoluut geen verband hou met sy vermoëns om die land se Tuindorp na jare se onderontwikkeling en afskepery as streekraadlid weer opnuut te laat blom nie.
“Dit (my verlede) is van geen belang nie,” het hy aan Republikein gesê. “Almal van ons het twyfelagtige verledes.”
Mnr. Booys se nominasie deur Swapo se Politburo is reeds in omstredenheid gedompel omdat hy as seun van Swapo-parlementariër Hans Booys op voetsoolvlak minder gewild was as me. Valerie Aron. Dr. Elijah Ngurare, sekretaris van Swapo se Jeugliga, het by navraag erken dat die party glad nie van mnr. Booys se rekord bewus was nie.
Hy wou niks sê op die vraag of dit lede se verantwoordelikheid is om sulke inligting vooraf te openbaar nie.
Dr. Ngurare het die oprakeling van “minder ernstige” geraamtes in die Swapo-kandidaat se kas as deel van die opposisie se beswadderingsagenda verwerp.
“Dit was nege jaar gelede,” het hy benadruk. Ook mnr. Booys self het geskerm dat hy nog baie jonk was.
“Ek dink nie daar is enigiets ernstig daaromtrent nie. Mense het egter die reg om vrae te vra.”
Mnr. Booys, nou 31, was in sy vroeë twintigerjare in ’n bekende drinkplek op Okahandja toe die polisie een nag in 2000 hier toegeslaan het. Die daaropvolgende jaar het hy in die Tuindorp se landdroshof skuldig gepleit op ’n klag in verband met die onwettige besit van ammunisie en ’n N$400-boete betaal.
Die staat het ’n klag dat hy glo ook onwettig in besit van ’n vuurwapen was, teruggetrek. Die Swapo-kandidaat het glad nie die feite ontken nie.
Wetlik is dié oortreding nie erg genoeg om hom as kandidaat vir die vakante setel op Otjozondjupa se streekraad te diskwalifiseer nie. ’n Burger is eers ongeskik vir sulke openbare diens as hy of sy vir ’n jaar tronk toe gestuur is sonder die keuse van ’n boete.
Mnr. Booys het dit as onbehoorlik bestempel om uit te wei oor wat presies tot die klagte teen hom aanleiding gegee het.
“Wat ons nou probeer aanspreek, is baie belangriker as iemand se verlede,” het hy geskerm.
Die jeug se verval in misdaad is volgens mnr. Booys juis ’n kwessie wat dringende aandag verg.
Die oplossing is volgens hom om ’n nuwe visie te gee aan jongmense, wat die knyp van armoede en werkloosheid tans die ergste voel.
|