Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

2.09.2010

Geldtwis kan weer arbeidskongres ontsier

DIE stand van Swapo-vakbonde met agterstallige finansiële verpligtinge teenoor die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) en hul deelname aan die komende naweek se kongres en leierskapsverkiesing van die federasie kan dalk weer ’n warm twisappel word.

Geldsake was in 2006 een van die faktore wat tot ’n massiewe uitstapaksie en die latere betwisting van die grondwetlike geldigheid van die vorige kongres se besluite gelei het. Na wat verneem word, is die oorgrote meerderheid lidbonde ondanks vier jaar gelede se drama steeds in die skuld by die NUNW.

Met net twee dae oor voor ’n moontlike waterskeidingsindaba in Windhoek het vakbonde wat die grootste stemblokke in die federasie verteenwoordig teen gister hul lojaliteite in die verkiesing jaloers geheim gehou.

Die onderwysvakbond Nantu en die Unie vir Vervoer- en Verwante Werkers (Natau) se uitvoerende besture sal vandag vergader en waarskynlik ook bespreek agter wie hulle hul gewig gaan ingooi.

In die stadium sal mnre. David Namalenga, vir die posisie van president, en Alfred Angula, vir sekretaris-generaal, as die magtige vakbond vir staatsdienswerkers (Napwu) se keuse die swaarde kruis met die huidige sekretarisgeneraal van die federasie, mnr. Evilastus Kaaronda, en dalk mnr. Elia Manga as voorgestelde opvolger vir die voormalige NUNWpresident en nou Adjunkminister van Arbeid, mnr. Alpheus Muheua.

Mnr. Bernard Milinga, sekretaris- generaal van die Unie vir Metaal- en Verwante Werkers (Manwu), en mnr. John Kwedhi, Natau se sekretaris-generaal, het egter gister soos die Mynwerkersunie (MUN) ontken dat hulle in die Kaaronda-kamp is.

“Dit is ’n skinderstorie,” het mnr. Milinga gesê. “Ons lede sal hul demokratiese reg vanaf die vloer uitoefen.”

“Natau sal nie deel van enige onregverdige bakleiery word nie,” het mnr. Kwedhi op sy beurt benadruk.

“By ons staan werkersbelange voorop.” In die binnekamers van Natau word aangevoer dat mnr. Kaaronda se ondersteuning van twee jaar gelede se onwettige staking by TransNamib nie sy kanse negatief kan beïnvloed nie.

Mnr. Kiros Sackarias, sekretaris-generaal van die Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau), het gesê dit is vir hom “nuus” dat die vakbond glo op Napwu se perde gaan wed.

“Ons sal môre (vandag) ’n kollektiewe besluit neem,” het Nantu se sekretaris-generaal, mnr. Basilius Haingura gesê.

Sowat 750 afgevaardigdes sal vanaf vandag oor die lengte en breedte van Namibië in die hoofstad begin aankom vir die kongres. Die heel grootste stemblok is Napwu self, met 261 afgevaardigdes. Die vakbond is egter al lank op voetsoolvlak openlik verdeeld oor die standaard van sy huidige aanvoerders se leierskap; ’n gegewe wat staatsamptenare se stem kan verdeel.

Mnr. Peter Nevonga, omstrede sekretaris-generaal van Napwu, kon nie vir kommentaar bereik word oor aantygings dat die vakbond planne in die mou voer om selfs “Radopas” (ondersteuners van die Rally for Democracy and Progress) as stemvee in te voer om mnr. Kaaronda se veldtog vir ’n tweede termyn te probeer ondermyn nie.

Manwu het 130 gesante, Nafau 105 en Nantu 95.

Die onderwysbond kan egter nog vyf afgevaardigdes benoem. Die MUN het 70 kongresgangers. Die kleiner vakbonde is Natau en die finansiële sektor se Nafinu, met 30 afgevaardigdes elk, en die vakbonde vir plaaswerkers, Nafwu, en musikante, Namiu, met tien gesante elk.

Nadat daar Maandag nog bespiegelinge was dat die kongres dalk uitgestel sal moet word, het naamlyste van alle afgevaardigdes net die dag daarna soos blits ingerol. Net Nafau moes teen gister na wat verneem word nog 50 van hul afgevaardigdes benoem.