
Mnr. Calle Schlettwein
‘n PROJEK om ondersoek in te stel na politieke finansiering onder die sambreel van die internasionale organisasie Transparency International, is verlede week in Windhoek bekendgestel.
Tydens ‘n slypskool wat deur die Namibiese Instituut vir Demokrasie (NID) aangebied is, het die permanente sekretaris van Finansies, mnr. Calle Schlettwein, gesê die Grondwet maak voorsiening vir ‘n veelparty demokrasie en dat ‘n omgewing geskep moet word waarbinne dit kan gedy. Politieke partye moet in staat wees om te kan bestaan.
Hul bestaan is afhanklik van bronne waarmee hulle nuwe lede moet werf en verkiesingveldtogte moet voer. Politieke finansiering is dus nodig om kiesers in staat te stel om hul keuses uit te oefen omdat hulle ingelig is oor die standpunte van verskillende politieke partye.
In Namibië is daar erkenning vir die belangrikheid hiervan. Gevolglik maak die land voorsiening vir die finansiering van politieke partye in sy begroting onder die hoof: konsolidering van demokrasie. Die bedrag wat vir politieke partye opsy gesit word, hang af van die inkomste wat die land die vorige jaar verdien het.
Altesaam 0.2 persent van die vorige finansiële jaar se inkomste gaan aan die begrotingshoof. Dit word as ’n enkelbedrag aan die Nasionale Vergadering betaal, wat dit proporsioneel, bereken op die aantal setels wat ‘n politieke party in die Nasionale Vergadering verwerf het, uitbetaal.
In die 2009-2010 finansiële jaar is ‘n bedrag van N$48,2 miljoen vir die doel begroot. In die 2010-2011 finansiële jaar sal dit N$52 miljoen en in 2011-2012 sal dit N$55.7 miljoen beloop.
Volgens mnr. Schlettwein is die grootste uitdaging hoe om die finansiering te reguleer. Sommige aspekte daarvan is reeds gereguleer soos dat finansiering van eksterne bronne openbaar gemaak moet word.
Mnr. Schlettwein meen staatsfinansiering vir politieke partye het positiewe gevolge omdat dit verseker dat politieke partye onafhanklik bly en nie deur druk of belangegroepe gemanipuleer kan word wat finansiering aan hulle verskaf nie.
In Namibië ontvang net partye wat setels in die Nasionale Vergadering verwerf het, finansiering. Sodoende word verhinder dat kansvatters politieke partye stig bloot om finansiering van die staat te kry.
Dit is ook ‘n uitdaging om rekenskap te gee van die wyse waarop politieke partye die geld bestee wat hulle van die staat ontvang. Volgens mnr. Schlettwein is deursigtigheid en behoorlike bestuur daarvan noodsaaklik. Bekendmaking van die besteding behoort volgens hom die sleutel te wees.
Dit bly aan die einde van die dag belastingbetalersgeld. Hy sê die studie wat gesamentlik deur Transparency International en die NID van stapel gestuur word, behoort ‘n betekenisvolle bydrae te lewer om ‘n sterker, meer reël-gegronde stelsel daar te stel.