DIE Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, het met die wegspring van ’n reeks debatte oor die land se 20ste onafhanklikheidvieringe voorgestel dat elke inwoner self ’n punt gee vir waar Namibië vandag met betrekking tot belangrike politieke, maatskaplike, ekonomiese, kulturele en wetenskaplike maatstawwe staan.
Hoe vreedsaam is die land byvoorbeeld? Hoe stabiel? Hoe demokraties? Het daar reeds genoeg maatskaplike geregtigheid en bemagtiging geskied? Het almal genoeg ekonomiese geleenthede en word die ekonomiese koek in die land regverdig en mededeelsaam benut?
Is kultuurregte sterk genoeg verskans en kan mense hul tradisies en godsdiens vrylik uitleef – met onderlinge respek vir mekaar? Is Namibië reg vir Visie 2030 se ideale met betrekking tot innovasie en gereedheid om deel te wees van die elektroniese wêrelddorp (e-gereedheid)?
Oor die volgende twee weke kan jy jóú stem laat geld. Hoe? Vul eenvoudig die prestasieverslag hieronder in. Een (1) is die laagste telling (swak), 2 ondergemiddeld, 3 gemiddeld (so-so), 4 bogemiddeld en ’n 5 baie goed of uitstekend.
Knip jou rapport vir Namibië uit en faks aan Republikein by 061 223 721, OF besoek ons webwerf (www.republikein. com.na) om die elektroniese puntekaart in te vul én te sien wat ander Namibiërs dink.
Daar is ook ruimte vir kommentaar. Klik net op die skakel “Score Card: 20 Years of Independence” om jou sê te sê. Dieselfde telkaart is ook beskikbaar op die webwerwe van Namibian Sun (www. mobi.com.na), Allgemeine Zeitung (www. az.com.na) en by www.namlish.com.