24.07.2008
Fone af oor misbruik van die satellietstelsel
MISBRUIK van die nasionale telekommunikasievoorsiener se satelliettelefoonstelsel op die platteland het veroorsaak dat kliënte reeds drie weke met gebrekkige skakeling na die buitewêreld moet klaarkom. Die senior bestuurder van Telecom Namibia se korporatiewe kommunikasie en openbare skakelafdeling, mnr. Oiva Angula, het bevestig dat die staatsmaatskappy die probleem met die V-Sat Dial Away-stelsel ondervind.
“Die V-Sat-stelsel word oorlaai omdat kliënte wat aanvanklik vir stemdienste aansoek gedoen het, agtergekom het dat hulle inderdaad hoëspoed internetverbinding met hul gewone lyne kan verkry. Die situasie het tot misbruik van die stelsel gelei en ‘n opeenhoping veroorsaak binne die verbindingslyn na Windhoek se sentrale rekenaar wat die stelsel bedien.”
Volgens mnr. Angula kan die sentrale rekenaar nie die oorlaaide lyn hanteer nie en spring die stelsel sporadies af. Tegnici moet dan die stelsel in Windhoek weer aansit en dus kan ‘n deurlopende diens aan kliënte nie verseker word nie. “Die misbruik deur sekere kliënte veroorsaak dat ander gebruikers daardeur benadeel word. Telecom se tegnici het egter reeds begin om die rekenaarnetwerk wat kliënte met die sentrale stelsel verbind, te optimaliseer en die probleem behoort eersdaags iets van die verlede te wees.”
Volgens mnr. Angula moet die bedieningsnetwerk na individuele kliënte hersien en verstel word en waar datalyne benodig word, moet diegene daarvoor aansoek doen. Lodges en gasteplase wat van ‘n bankdiens gebruik maak om kredietkaarttransaksies moontlik te maak, moet volgens mnr. Angula vir ‘n datalyn aansoek doen.
Bankdienste in die verband was volgens mnr. Angula sonder ‘n datalyn moontlik tot voor die stelsel oorlaai is, maar nou moet die satellietstelsel in so ‘n mate hersien en aangepas word dat dit alle kliënte sal beïnvloed. Mnr. Angula het kliënte van die V-Sat Dial Away stelsel versoek om enige onderbreking in die diens met Telecom se kliëntediensentrum te bespreek. Volgens hom is dit noodsaaklik dat elke onderbreking aangemeld word sodat die probleem so spoedig moontlik opgelos kan word. Die sentrum kan tolvry by 1100 geskakel word.