24.07.2008
Finland gee euro vir projekte
DIE Finse ambassade het Dinsdag skenkings van meer as N$3,4 miljoen aan verskeie Namibiese instansies toegeken vir projekte wat wissel van toerisme tot landbou en ook tersiêre onderwys. ‘n Bedrag van €40 000 (N$478 418) is aan die Namibiese Toerismeraad (NTB) bewillig vir die bevordering van Namibiese toerisme in Finland deur die NTB se deelname aan die Matka 2009 reis- en toerismeskou in Helsinki wat van 15 tot 18 Januarie aanstaande jaar plaasvind.
Die Landbouhandelsforum het ’n bedrag van €28 000 (N$334 892) ontvang vir voortgesette ondersteuning van die onderhandelinge met die Europese Unie vir ’n ekonomiese samewerkingooreenkoms en veral vir ’n studie oor die beskerming van jong bedrywe en ondersoek na die voorkeurreëls van oorsprong.
Die Instituut vir Openbare Beleidnavorsing (IPPR) het dieselfde bedrag ontvang vir ’n oorsig oor die energiebeleid en beplanning in Namibië. Altesame €120 000 (meer as N$1,4 miljoen) gaan na die Woestyn Navorsingstigting van Namibië. Hiervan sal €60 000 (N$717 627) aangewend word vir kapasiteitbou van plaaslike ower hede wat veral na die stand van water en sanitasiedienste in die Hardap- en Karas-streke sal kyk.
’n Verdere €60 000 (N$717 627) gaan om ’n omvattende tegniese voorstel vir die inrigting van ’n droë fermentasie biogas aanleg op Mariental, wat riete uit die rivierbedding en munisipale afval as brandstof sal gebruik om energie en elektriese krag op te wek vir die armer nedersettings van die dorp. Finland se erekonsulaat in Namibië ontvang €37 000 (N$442 536) vir die tweede fase van die totstandkoming van ’n kontrakarbeid- en apartheidstelsel- museum in Walvisbaai.
Daar word gehoop dat die museum in die eerste kwartaal van volgende jaar sy deure kan oopmaak. ‘n Bedrag van €40 000 (N$478 418) gaan na die Namibiese gevangenisdiens vir ’n nasionale konferensie oor gemeenskapsdiens en ondersteuning van voortgesette samewerking tussen die gevangenisdiens en die Finse agentskap vir kriminele sanksies en die Finse gevangenispersoneel opleidingsentrum.
Die Politegnikum van Namibië het by dieselfde geleentheid €10 000 (N$119 604) ontvang vir ’n lewensvatbaarheidstudie vir entrepreneurskap geskoei op die model van sakeonderrig in Finland. Namibië hoop om deur dié studie ’n program te ontwikkel vir ’n graadkursus in entrepreneurskap.
Tydens haar laaste amptelike funksie voor haar terugkeer na Finland, het die Finse saakgelastigde in Namibië, me. Seija Kinni-Huttunen, daarop gewys dat Finland die afgelope vyf jaar van haar ampstermyn verskeie projekte ondersteun het ter versterking van die burgerlike gemeenskap; die verbetering van maatskaplike en geslaggelykheid, ’n oper maatskaplike samelewing en menseregte in Namibië.
Aandag is ook gegee aan die verstewiging van betrekkinge tussen Finland en Namibië en die bevordering van handel en belegging tussen die twee lande. Die versterking van plaaslike kultuuridentiteite was ook hoog op die sakelys. In 2008 het die ambassade altesaam 51 nuwe en voortgesette projekte in die velde van menseregte en demokrasie, geslag en maatskaplike gelykheid; die versterking van institusionele, kommersiële en handelsbetrekkinge asook inligting en kommunikasietegnologie; ekonomies volhoubare ontwikkeling en die beskerming van die omgewing asook die versterking van plaaslike kultuuridentiteite ondersteun.
Verlede jaar het die ambassade ’n omvattende evaluasie van projekte wat deur die ambassade gefinansier word onderneem. Altesaam 14 langtermyn projekte is vir die ondersoek gekies. ’n Verdere 17 projekte sal tussen 2008 en 2010 ondersoek word. Die ondersoeke wat reeds afgehandel is, het bevind dat waardevolle werk inderdaad deur die meeste vennote gedoen word, maar daar is ook bevind dat heelwat tekortkominge op administratiewe bestuurvlak bestaan.
Tog wys me. Kinni-Huttunen daarop dat die ondersoeke nie ’n polisiëring meganisme is nie, maar bloot ’n spieël vir die implementerende instansie wat deur ’n onafhanklike buitestander- organisasie voorsien word. In sy bedankingsrede namens die ontvangers van Finse hulp, het die rektor van die Politegnikum van Namibië, dr. Tjama Tjivikua, Finland geloof vir die land se onbaatsugtige steun aan Namibië oor baie jare en Finland as “’n lewenslange vriend van Namibië” bestempel.