
Namibië se Minister van Onderwys, mnr. Nangolo Mbumba, en Finland se minister van onderwys en wetenskap, me. Henna Virkkunen.
NAMIBIËRS het vandeesweek die voorreg gehad om skouers te skuur met wêreldleiers in onderwys, met afgevaardigdes van Finland onder leiding van die minister van onderwys en wetenskap, me. Henna Virkkunen, wat aan ’n tweedaagse Namibië-Finland Opvoedingslypskool deelgeneem het.
Rolspelers in opvoeding in die land het saam met die Finse afgevaardigdes by ’n slypskool met die tema “Sharing best practices in Higher Education” verkeer. ’n Ooreenkoms is ook tussen die Ministerie van Onderwys en sy Finse eweknie onderteken.
Die slypskool het Woensdag by die Safari Hotel geëindig en was daarop gemik om die gevestigde verhouding tussen die twee regerings te versterk en nuwe gebiede van samewerking in opvoeding tot wederkerige voordeel van die twee lande se mense te verken.
Namibiese opvoedingsinstansies het volgens ’n verklaring deur die Ministerie van Onderwys reeds verskeie samewerkingsprogramme met Finse eweknieë op gebiede soos beroepsopleiding, hoër opvoeding, navorsing en uitruilprogramme.
Die ooreenkoms behels die toekomstige samewerking tussen die twee ministeries.
Namibië se Minister van Onderwys, mnr. Nangolo Mbumba, meen die geleentheid was ’n unieke ondervinding vir Namibië wat ’n relatief kort geskiedenis in hoër opvoeding het.
Hy het in sy toespraak gesê die uitdagings wat die land in die gesig staar sluit in om volhoubare en doeltreffende inkomste vir opvoeding te voorsien.
Ander uitdagings is dat die land moet bybly met die toenemende studentegetalle en die koste van hul studies.
Hy meen die sleutelfokus lê in die akkreditering van programme wat by die instansies aangebied word.
Me. Virkkunen het gesê een faktor wat tot Finland se uitstekende onderwysstelsel bydra, is dat die land slegs hoë gekwalifiseerde onderwysers in sy stelsel toelaat.
“Geen ondergekwalifiseerde onderwysers word in ons stelsel toegelaat nie,” het sy gesê. Sy meen Finland se opvoedingstelsel waarborg gelyke geleenthede vir basiese opvoeding aan alle kinders.
Sy sê elke jaar vorder 96% van skoolverlaters na tersiêre vlak. “Ons het net ’n baie klein persentasie leerlinge wat skool verlaat of druip.”
Volgens haar die opvoedingstelsel maak doeltreffend gebruik van hulpbronne en die land het ’n uitmuntende opvoedingsrekord.