Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


3 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

3.07.2009

Fietsers trap teen wildstropery


’n Gedeelte van die Challenge4aCause-span wat Sondag Damaraland met fietse aandurf in ’n poging om N$350 000 vir renosters in te samel.
WELDOENERS uit Suid-Afrika tree Sondag op Palmwag aan om minstens N$350 000 in te samel om Namibië se uitstekende naam van anti-wildstropery hoog te hou.

Agtien fietsryers van Challenge4aCause kom Saterdag in Namibië aan en gaan met hul ysterperde van Palmwag af oor 370 km tot in die Doro-!Nawas-bewaringsgebied ry. Die toer vind onder leiding van ’n private toeroperateur, Rhino Africa Safaris van Suid-Afrika, plaas.

“Die N$350 000 wat ons wil insamel, is genoeg om die Namibiese anti-wildstroopeenheid vir ’n jaar op die been te hou. Die geld sal direk aan die Red-die-Renosterfonds gaan, wat dit sal administreer,” het mnr. David Ryan, besturende direkteur van Rhino Africa Safaris, aan Republikein gesê.

Hy sê Namibië het in die laaste tien jaar geen swartrenosters aan die hand van wildstropers verloor nie. “Dit beteken dat die anti-wildstroopeenheid suksesvol is, maar ’n finansiële swaard hang oor hul koppe. Daarom is die geld nodig om die eenheid te onderhou.”

Op die lang termyn beoog Challenge4aCause om die fietstog ’n jaarlikse instelling te maak om genoeg geld in te samel om ’n strook grond aan die oostelike platorand van Suider-Afrika te koop om ’n migrasieroete vir massas Afrika-diere te skep.

“Vir nou hou ons eers by een spesie,” sê mnr. Ryan.

Challenge4aCause is ’n nie-winsgewende inisiatief wat deur Rhino Africa Safaris geskep is en jaarliks ’n liefdadigheidsprojek teiken. Vanjaar kom Namibië se unieke swartrenosterbevolking aan die beurt.

“Elke deelnemer aan die fietstoer is ’n vrywilliger en elkeen betaal sy of haar eie onkoste. Deur dit te doen, is ons verseker daarvan dat die totale bedrag geld wat ingesamel word na die regte plek gaan,” sê mnr. Ryan.

Volgens statistiek van mnr. Ryan is 156 renosters in die laaste ses maande deur wildstropers in Suid-Afrika doodgemaak.

“Vir ’n spesie soos die renoster wat so kwesbaar is, is dit eenvoudig onvolhoubaar. En vir ’n spesie wat die gesondheid van ’n ekostelsel bepaal, sal dit ’n misdaad wees om nie op te tree nie.

“Daarom is Red-die-Renosterfonds ons primêre liefdadigheidsprojek vir die jaar.”

Mnr. Ryan sê indien die reaksie vir skenkings sterk genoeg is, sal die Challenge4aCause-inisiatief voortgaan met soortgelyke jaarlikse uitdagtings, wat oop is vir Jan Alleman en die sakegemeenskap. Vanjaar se geleentheid is geslote, maar vanaf aanstaande jaar wil Challenge4aCause die fisiese geleentheid en voorafbeplanning daarvan oop maak.

Om bydraes te lewer, kan die webwerf www.rhinoafrica.com/challenge4acause besoek word. Ongeag of skenkings uit N$20 of N$10 000 bestaan, sal dit ’n verskil in die voortbestaan van renosters beteken.

Rhino Africa Safaris is ’n Kaapstadse toeroperateur wat in luukse, pasgemaakte vakansies in Suid- en Oos-Afrika spesialiseer.