23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

17.11.2008

Etsip: Die suksesse en uitdagings


OM die aantal leerlinge wat hul grade herhaal drasties te verminder en graad 10’e en graad 12’s – asook vanaf volgende jaar graad 5’e en uiteindelik graad 7’s – se prestasie in sleutelvakke merkbaar te verbeter, is twee van die vernaamste onmiddellike uitdagings vir Namibië se omvattende Verbeteringsprogram vir die Onderwys- en Opleidingsektore (Etsip).

Hoewel daar op verlede maand se jaarlikse hersiening van hierdie ingrypingsplan groot lof was vir wat reeds bereik is, is verskeie belangrike tekortkominge ook pertinent by die naam genoem. Mnr. Justin Ellis, programbestuurder vir Etsip, glo daar kan baie vinnig ’n ommekeer bewerkstellig word by die steeds te veel skole waar tot tussen 80 persent en 100 persent van leerlinge steeds nie die pyp rook nie.

Etsip wil in die algemeen ’n gemiddelde herhaalsyfer van sowat 20 persent teen 2012 halveer. Wat vakprestasies betref, kon net graad 12’s op ’n raps na verlede jaar die voorgestelde prestasiedoelwit vir skeinat haal, wat gestel was op ’n D-simbool of beter vir net meer as 44 persent van alle leerlinge. In graad 10 is daar steeds onderpresteer in skeinat, sowel as in Engels en wiskunde.

Mnr. Ellis het voorgestel dat hierdie teikens hersien word en volgens ’n werksdokument oor doelwitte vir die toekoms is hierdie kerwe net effens afgeskuif. Teen 2015 behoort die helfte van graad 10’e en graad 12’s volgens vooruitskattings egter wel ’n D of meer te behaal.

Uitslae van verlede jaar se streektoetse vir kwaliteitonderwys (SACMEQ), wat nog verwerk word, sal volgens mnr. Ellis soos die volgende nasionale sensus in 2011 ook help om die impak van Etsip meer noukeurig na te spoor.
Die saadjie het ontkiem, sê Mbumba
 
Etsip se groeiende sukses in maar net die tweede jaar van implementering is volgens die Minister van Onderwys, mnr. Nangolo Mbumba, onteenseglike bewys dat hierdie saadjie vir vooruitgang nou ontkiem het. Die begin was beslis nie maklik nie, maar volgens die Minister beslis uiters hoopvol.

Nou moet die hele land volgens mnr. Mbumba in geloof na die einddroom deurdruk. Etsip, het hy gesê, staan volgens ’n SMS aan die Ministerie ook vir “Every teacher, student, inspector and parent.”

Die kerndoelwitte van die eerste vyfjaarfase van Etsip is om tersiêre onderrig meer relevant te maak, die arbeidsmark met beter en meer toepaslike vaardighede te voed, kennis en innovasie te bevorder, die gehalte en doeltreffendheid van algemene onderwys te verbeter, eerste op die behoeftigstes te fokus en stewige fondamente vir ’n gesonde lewenslange leerkultuur te lê.

Mnr. Ellis het die Minister se eis dat nou dat Etsip uit die blokke is flinker op praktiese uitdagings gereageer moet word, van sy kant skerp benadruk. “Asemrowende verandering” is reeds gemaak in beleid, praktyke, en op institusionele en wetgewende vlak, het hy benadruk. Mnr. Ellis het egter gemaan dat die Ministerie oorbesteding, veral op personeel, bitter fyn moet dophou.

Volgens mnr. Ellis het onderwys se massiewe salarisrekening reeds begin daal – wat beteken dat meer geld vir ander noodsaaklikhede beskikbaar is. Die eerste fase van Etsip gaan nou gerek word tot in die 2012/13 boekjaar – nie net om beter in te pas by die Regering se rollende begroting nie, maar ook by NDP3 en die befondsingsiklusse van die VSA se Millenniumuitdaagkorporasie (MCC) en die Europese Unie (EU).

Mnr. Ellis het ook ’n splinternuwe hersieningsagenda voorgestel, wat ontwikkelingsvennote se kennis en kundigheid beter moet inspan. Hiervolgens sal daar net jaarliks een groot hersieningsindaba wees (in September of Oktober) in stede van twee. In November sal gekoukus word op spesifieke brandpunte vir die komende jaar en die nodige tegniese steun, waarop werkgroepe reeds vanaf Januarie intensief sal fokus.

Elke April en Mei sal eksamenuitslae en onderwysstatistieke voorts haarfyn bestudeer word. Volgens me. Tuli Nghiyoonanye, direkteur van beplanning van ontwikkeling, gaan ’n splinternuwe direktoraat in die Nasionale Beplanningskommissie (NPC) tot stand kom om spesifiek vordering met Etsip se hoofkomponente te monitor.

Mnr. Justin Ellis, programbestuurder vir Etsip, en sy regterhand, me. Sandra van Zyl, gee terugvoering oor die jongste suksesse en uitdagings met hierdie onderwysrevolusie. Mnr. Ellis tree aan die einde van die jaar af.
Vroeë kinderontwikkeling en preprimêre onderwys
 
Volgens doelwitte onder bespreking sal 2 500 kinders volgende jaar die hersiene skoolgereedheidsprogram voltooi. Teen 2013 kan hierdie syfer dalk reeds op 17 500 staan. Wat kleuterskole betref, is ’n nuwe staatsprogram vir preprimêre onderrig vanjaar by 100 benadeelde skole bekend gestel.

Die 2 441 kinders wat betrek is, was net-net minder as die doelwit van 2 500 wat volgende jaar met graad 1 sal begin. Tydelike mikpunte sluit in om die aantal staatskleuterskole in 2009 te verdubbel en teen 2013 minstens 22 500 kinders in sulke skole te hê.

Me. Tuli Nghiyoonanye, direkteur van beplanning van ontwikkeling in die Ministerie van Onderwys.
Algemene onderwys
 
Ná die heftige debat aan die begin van vanjaar het die Regering N$340 miljoen beskikbaar gestel om meer plekke in graad 11 te skep. Deel van hierdie proses tyd wat Namcol se deeltydse leerlinge klas loop.

’n Lewensvatbaarheidstudie is voltooi vir die oprigting van ses visieskole “wat uitnemende sekondêre onderwys aan gekeurde leerlinge uit benadeelde agtergronde sal verskaf om te verseker dat sulke leerlinge hoog op die beroepsleer kan klim om die bose kringloop van armoede te begin breek.”

Die innoverende ontwerp en ekologiese uitleg van sulke skole maak bouwerk volgens mnr. Ellis ’n duurder taak as gewoonlik. ’n Tender is reeds geadverteer vir die oprigting van die land se eerste visieskool by Mwichiku, by Bagani in Kavango. Die Duitse regering het ’n skenking hiervoor bewillig.

’n Nuwe leerplan sal in Januarie 2010 geïmplementeer word, gebaseer op vaardighede in ’n kennisgebaseerde ekonomie. Hoewel standaarde vir onderwysers en skole gestel is, het die evaluering van 30 skole se selfbepaalde prestasiedoelwitte getoon dat personeel dikwels te positief oor hul werk is. Hierdie doelwitte sal na afloop van die huidige skooljaar aan die hand van uitslae nagegaan word.

Teen volgende jaar wil die Ministerie graag sien dat 20 persent van skole hul mikpunte haal en teen 2013 moet dit sowat 60 persent wees. Volgens mnr. Ellis is die lewering van handboeke drasties verbeter. Meer as die helfte as tevore is op handboeke vir graad 5 tot graad 10 bestee.

Die Ministerie is voorts besig om reëlings te tref vir die implementering van die nuwe handboekbeleid wat deur die Kabinet goedgekeur is. ’n Voorgestelde teiken is dat tot 45 persent van leerlinge teen volgende jaar hul eie handboek vir elke vak sal hê, met ’n 100 persent vooruitsig teen 2014.

Nuwe poste is in die eksamendirektoraat geskep vir die eksterne eksaminering van graad 5 en graad 7. Die eerste toetsitems sal volgende jaar aan ’n proeflopie onderwerp word, met ’n eksterne graad 5-eksamen by ’n verteenwoordigende groep skole aan die einde van 2009. Graad 7 sal volgens plan aan die einde van 2010 aan die beurt kom.

Volgens mnr. Ellis sal hierdie nuwe bedeling groter druk op laerskole plaas om te presteer. Die plan om die getal leerlinge per onderwyser stelselmatig te verhoog, het hy gesê, is eers weer na ’n tegniese komitee verwys, wat meen dat hierdie beginsel, veral op junior sekondêre vlak, dalk problematies mag wees.

Wat dalk nodig gaan wees, is om die leerplan vir graad 8 tot graad 10 van agt tot ses eksamenvakke te verminder. Die saamgooi van verskillende grade in een klas, wat weer implikasies het vir onderwysopleiding, is volgens mnr. Ellis ’n ander moontlikheid. Daar was die afgelope jaar ook goeie vordering met die formulering van ’n nuwe beleid oor spesiale en inklusiewe onderrig.
Onderwysopleiding en steundienste
 
Indiensopleiding het die afgelope jaar in geselekteerde vakke plaasgevind, terwyl ’n nuwe aksieplan oor die rol van vakadviseurs en inspekteurs opgestel word. Planne is gereed vir opskerping van onderwysers se Engels, met ’n soortgelyke projek vir wiskunde op die tafel.

Die Adjunkminister van Onderwys, dr. Becky Ndjoze-Ojo, het groot applous uitgelok toe sy onder meer opnuut geëis het dat toelatingseise vir Engels gou deur universiteite en kolleges verhoog moet word. Sewentig skoolhoofde het ingeskryf vir ’n bestuurskursus geborg deur Eerste Nasionale Bank, Skorpion Zinc, en die Pupkewitzen Rössing-stigting.

’n Stelsel vir die lisensiëring van onderwysers is gefinaliseer, maar nog nie deur die vakbond bekragtig nie. Voorstelle is dat een uit elke vyf leerkragte teen 2013 ’n lisensie sal hê, teen 2014 die helfte en vanaf 2017 alle onderwysers.

Die debat duur voort oor hoe skoolgroepe (“clusters”) vir indiensopleiding ingespan kan word, terwyl ’n stel aansporingsmeganismes om goeie onderwysers na verafgeleë landelike gebiede te lok met onder meer behuising, in September aan die Kantoor van die Eerste Minister voorgelê is.

Die Premier het benadruk dat hy egter eers die impak op die hele staatsdiens sal moet ondersoek. Die instel van ’n prestasiebestuurstelsel (PMS) is ook opnuut vertraag, hoewel dit volgens mnr. Ellis nie meer te lank gaan neem om hierdie doelwit te realiseer nie. Die feit dat sekere streke reeds hul eie planne het om prestasie te bevorder en te meet, is volgens hom uiters positief.

’n Totaal van 19 interne fasiliteerders is reeds opgelei om die PMS vir onderwys te help implementeer, hoewel 32 sulke persone egter in totaal nodig is.

Volgens plan behoort ’n kwart van skoolhoofde reeds teen 2013 prestasiekontrakte met hul werkgewer te hê en teen 2016 almal. Die Ministerie het onlangs toestemming gekry om sy eie vloot voertuie te huur, wat ondersteuningdienste verder behoort te verbeter.
Beroepsopleiding
 
Tot 2 000 nuwe intreeplekke vir vakleerlinge is spesifiek vir graad 10’e by beroepsopleidingskolleges (VTC’s) geskep. Byna 1 000 meer vakleerlinge het vanjaar by VTC’s ingeskryf, sowat ’n derde van hulle jong vroue, terwyl die totale begroting vir beroepsopleiding (VET) sedert 2007 van N$65 miljoen tot N$129 miljoen vir vanjaar byna verdubbel is.

Die Ministerie het ook reeds amper die 2011-teiken van 6 000 vakleerlinge behaal. Drossyfers is egter nog nie beskikbaar nie – ’n getal wat teen 2011 op net 20 persent moet staan. Volgens ’n voorlopige ondersoek het 40 persent van vakleerlinge in die pre-Etsip-bedeling nie werk gekry nie.

Mnr. Ellis glo hierdie tendens kan dalk daaraan toegeskryf word dat werkgewers teësinnig is om mense aan te stel wat hulle nie self opgelei het nie. ’n Nuwe peiling word oorweeg om vas te stel hoeveel vakleerlinge vandag werk vind.

Siende die Wet op Beroepsopleiding aanvaar is en die land se eerste Opleidingsraad aangestel is, kan die inkomstepoel vir VET volgens mnr. Ellis aansienlik verbreed wanneer die voorgenome opleidingsheffing op werkgewers ’n werklikheid word.

Luxemburg gaan help met die verdere ontwikkeling van die Namibiese Opleidingsowerheid (NTA) en die doelwit om VTC’s outonome instellings te maak. Die NTA het reeds opleidingstandaarde vir ’n 501 vakleerlingmodules in verskillende dissiplines voltooi, en werk tans aan riglyne
Tersiêre onderrig
 
Hoër onderwys het vanjaar met ’n oorbruggingsprogram begin vir die eerste 119 leerlinge wat by Namcol in Katutura en Ongwediva onderrig in wetenskap en wiskunde ontvang om hulle vir universiteitstoelating te help kwalifiseer.

Die Ministerie wag volgens mnr. Ellis nog op die NPC vir spesifieke beramings oor hoeveel Namibiërs in sekere velde opgelei moet word oor die volgende jare. Volgens voorstel sal die Universiteit van Namibië egter hopelik volgende jaar deur die 10 000 inname-kerf breek. Omdat die Regering aansienlik meer studente sal moet ondersteun, is ’n bykomende N$100 miljoen vir lenings en beurse beskikbaar gestel.

’n Gebou word tans gesoek vir die Nasionale Raad vir Hoër Onderwys en die Adviesraad vir Onderwysopleiding se hoofkwartier, terwyl ’n konsultant aangestel is om ’n strategiese plan vir en beleid oor tersiêre onderrig en ’n nuwe befondingsformule vir hoër onderwys op te stel.

’n Vergelykende studie oor wetgewing in verband met hoër onderwys is afgehandel en sal die weg baan vir ’n wysigingswet wat een reguleringsliggaam tot stand sal bring. Studiehulp is vanjaar aan 28 dosente by tersiêre inrigtings verleen.

(Lees môre verder oor aspekte soos inligting- en kommunikasiewese, desentralisering en skakeling met die private sektor.)