4.02.2010 Erongo se uraandroogte neem die wyk
WATERTOEVOER na die Erongostreek se drie voorste uraanmyne was gister normaal waar geleidelik teruggekeer kon word na produksiefases nadat Rössing en Langer Heinrich op ’n waterlose Maandag en Dinsdag tot stilstand gekom het. Areva sal waarskynlik tot Vrydag moet wag voordat geleidelik na die nuwe myn se konstruksiefase teruggekeer gaan word.
’n Konstante watervloei van 700 kubieke meter per uur is Dinsdag al na Swakopmund as nog ’n grootmaatgebruiker herstel. Die vakansieoord se waterbehoefte is sowat 650 kubieke meter per uur. Die tweede wateronderbreking binne twee weke was toe te skryf aan ’n defekte transformator van NamPower by die Omdelskema oos van Hentiesbaai as die waterskuur van kusdorpe en die uraanmyne.
Die hervatting van die watertoevoer na die myne is gister op Swakopmund deur ’n woordvoerder van NamWater bevestig. Terselfdertyd is waarskuwend aangevoer dat die vlakke van die mynreservoirs nog relatief laag was.
Mnr. André Genis, hoofbestuurder van ingenieurswerke en projekte by Rössing, het gister bevestig dat produksie by die myn hervat is en dat dit gistermiddag om vieruur normaal sou wees nadat Maandag en Dinsdag by gebrek aan water vir instandhouding gebruik is.
Gisteroggend is produksie al hervat, maar dit het geleidelik opgebou. Areva kry die water vir sy Trekkopje- projek weer van die reservoir wat Rössing bedien. Volgens mnr. Genis behoort die watervlak in die reservoir so te styg dat ’n “leksel” water weer Vrydag aan Areva sal kan gaan. Teen Maandag behoort alles weer normaal in die produksiefase van die Trekkopje-projek te wees.
|