Mnr. J.W.F. Pretorius, voorsitter van Monitor Aksiegroep (MAG) skryf:
Ter sake is verskeie koerantberigte oor die skenking van 48 dubbelkajuitbakkies aan tradisionele owerhede teen meer as N$18 000 000.
In beginsel is daarmee niks verkeerd nie, want indien ’n mens opgesaal word met verskillende verantwoordelikhede, moet jy ook in die posisie gestel word om uitvoering daaraan te gee.
Die probleem is egter dat die SWAPO-partyregering se toepassing daarvan gepaard gaan met diskriminasie en strydig is met art. 10 van Namibië se grondwet.
Volgens art. 102(5) van die Grondwet moet daar ’n raad van tradisionele leiers wees wat ingevolge ’n wet van die Parlement ingestel moet word ten einde die President te adviseer oor die beheer en benutting van kommunale grond en oor al sodanige ander sake as wat deur die President vir advies na hom verwys mag word.
Die Regering het nog geen stappe gedoen om die Baster-, blanke- en bruin-gemeenskappe hierby in te sluit nie. Dit is onkonstitusioneel!
Die Wet op Tradisionele Owerhede is vroeg in die negentigerjare deur die Namibiese Parlement aanvaar en herskryf in 2000. In art. 3 word die magte, pligte en funksies van die tradisionele owerhede uiteengesit en onder meer bepaal dat hulle in die besonder die kultuur, taal, tradisie en tradisionele waardes van die betrokke gemeenskap sal handhaaf, bevorder, beskerm en sal bewaar.
Verder is dit ook hul taak om kulturele terreine, kunswerke en literêre werke van die betrokke gemeenskap te bewaar en te onderhou. Oor die afgelope twintig jaar het die Regering reeds miljoene Namibiese dollar hieraan bestee vir die swart gemeenskappe, sonder om ’n enkele sent te gee aan die Baster-, blanke- en bruin-gemeenskappe, vir dié doel.
Dit is ondanks volgehoue vertoë uit laasgenoemde gemeenskappe. Kom dit nie neer op die ergste vorm van rassediskriminasie nie?