Advertensie
Advertensie

Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Lesers 2010


Kyk saam!

Moorddossier


Advertensie
Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

25.08.10

Skaduwêreld ontbloot

23.08.10

Ongeluk eis bekende

23.08.10

Nujoma: Vat die grond

24.08.10

Tragedie in sjebeen

2.07.2009

Ekonomie op sy knieë

DIE wêreldwye ekonomiese resessie het sy greep op Namibië verstewig met ekonomiese groei wat tans op minus 5,8 persent staan. En vooruitsigte vir ’n spoedige herstel blyk maar skraal te wees.

Dit is veral die Namibiese mynbousektor wat gedurende die eerste kwartaal swaar getref is met diamantuitvoere wat van N$1,2 miljard in die laaste kwartaal van 2008 tot ’n skrale N$400 000 aan die einde van April vanjaar getuimel het. Die uitvoer van ander minerale het ook met 38,6% gedaal tot net N$1,8 miljard gedurende die eerste kwartaal.

Dié statistiek is gister deur die sentrale bank, die Bank of Namibia (BoN), vrygestel. Die adjunkpresident van die bank, mnr. Paul Hartmann, het by ’n nuuskonferensie gesê onsekerheid in die grondbeginsels van die ekonomie duur voort en die omswaai van die sukkelende ekonomiese bedrywighede in die land sal ’n uitdaging op die pad vorentoe bly.

Dit is egter nie net ’n Namibiese krisis nie, maar een wat wêreldwyd ’n negatiewe impak maak met gevorderde ekonomieë wat in die eerste kwartaal die swakste groeikoers nóg aangeteken het.

Die werkloosheidsyfer styg boonop ook na ongekende hoogtes. Dit is teen dié swart agtergrond wat die IMF, die Wêreldbank en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) hul ekonomiese groeivooruitsigte vir die wêreldekonomie verlaag het.

In die reële sektor is Namibië se belangrikste uitvoere in die primêre sektor swaar deur die ekonomiese toestand in die wêreld beïnvloed, veral diamante, uraan, sink en goud.

Die landbousektor het ook gebuk onder die toestande gegaan as gevolg van die afname in die aanvraag na produkte en seisoenale tendense. Die sekondêre bedrywe het ook swak vertoon en die meerderheid aanwysers wat ’n afwaartse beweging aangeteken het. In die tersiêre sektor het die uitslae egter baie gewissel.

Aan die positiewe kant het die Walvisbaaise hawe groter volumes vrag hanteer en meer besighede is ook in die kwartaal geregistreer. Ander aanwysers soos nuwe voertuigverkope, toerisme, spoorweg-en padvervoer, en die volumes vrag wat deur die hawe op Lüderitz hanteer is, het in teenstelling afgeneem.

In ooreenstemming met globale neigings, was die jaarlikse inflasie konstant, met ’n gemiddeld van 11,5 persent gedurende die laaste kwartaal van 2008 en die eerste kwartaal van 2009.

In verband met monetêre en finansiële ontwikkeling het die breë geldvoorraad gestyg, kwartaal op kwartaal, aan die einde van die eerste kwartaal as gevolg van die toename in netto buitelandse bates van die bankbedryf.

Die toestaan van krediet in die private sektor was steeds relatief beperk in die kwartaal aangesien dit net 1,9 persent groei aangeteken het. As gevolg van die toestande het die BoN ’n meer tegemoetkomende monetêre beleid aangeneem deur die repokoers met 300 basispunte gedurende die eerste kwartaal van vanjaar te verlaag tot op die huidige 7 persent.

In die openbare sektor het die Regering se skuldvoorraad gestyg terwyl hul leningswaarborge afgekeur is wat aan die openbare en private sektore uitgereik is. Plaaslike skuld het ook toegeneem, grootliks aangevuur deur die toenemende uitreiking van skatkiswissels en voorraad wat intern geregistreer is.

Op die eksterne sektorfront het die oorhoofse balans van die betalingsbalans voortgegaan om ’n surplus in die eerste kwartaal van 2009 aan te teken, al is dit op ’n laer vlak. Die ekonomiese wêreldwye krisis het uiteraard ook ’n negatiewe impak op Namibië.

Al het die inkrimping van kommoditeitspryse verlaag, is dit onduidelik hoe lank die onlangse herstel sal duur vir die voordele om na die reële sektor van die globale ekonomie deur te syfer.

Namibië staan voor ’n groot uitdaging indien die onsekerheid in sleutel fundamentele faktore soos globale verbruikersaanvraag voortduur, wat op sy beurt ekonomiese aktiwiteite inkort.

René Burger