
Die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula.
NAMIBIË is vandag, 20 jaar na onafhanklikwording, ’n totaal ander plek as wat dit in 1990 was. As Namibië in die volgende 20 jaar kan verseker dat die land ’n gesonde, opgevoede en opgeleide nasie het waar die omstandighede geskep is dat die meerderheid van die bevolking produktiewe bates besit, sal die land met sy 40ste onafhanklikheidsherdenking ’n heeltemal nuwe verskillende samelewing wees as wat dit vandag is. So sê die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula.
In ’n onderhoud met Republikein het hy die omstandighede 20 jaar gelede in herinnering geroep.
“Op 21 Maart 1990 is Namibië gebore as ’n onafhanklike, vry nasie. Op daardie tydstip toe verteenwoordigers van politieke partye vergader het in die Grondwetskrywende Vergadering en ooreengekom het op die soort grondwet wat die land sou hê, was die omstandighede onder die gewone publiek aansienlik anders. Daar was wantroue, agterdog en mense het nie geweet waarheen dinge op pad was nie. Daar was vrees vir die onbekende toekoms.
“Toe ek as die eerste Minister van Onderwys aangestel is in 1990, is ek deur die destydse direkteur van Blanke Onderwys genooi om skoolbeheerrade van blanke skole toe te spreek. Die byeenkoms was by Windhoek Hoërskool. Toe ek daar kom, het ek ’n gemeenskap gevind wat aan bomskok gely het. Dit was letterlik asof ’n bom in hul midde ontplof het. Ek hoor toe hoe die een amptenaar probeer paai en sê: ‘Dit is nie die einde van die wêreld nie’.”
“Mense was onseker oor wat die toekoms inhou. Ons moes begin om brûe van wedersydse respek en kontak te bou. Die Swapo-regering het wyslik besluit om ’n beleid van nasionale versoening te aanvaar wat sou beteken dat ons op ’n nuwe bladsy ons gesamentlike toekoms beplan. Ons het besluit om die verlede agterweë te laat en uit te reik na mekaar omdat ons een voorland het. Dit het ons gehelp om by moeilike omstandighede aan te pas soos die unifikasie van twaalf verskillende onderwysstelsels wat ons hier aangetref het. Dit was nie maklik om mense van verskillende kulturele agtergronde saam te bring en binne dieselfde raamwerk te laat dink nie.
“As nuwe Minister moes ek kantoorruimte soek. In Windhoek was daar drie onderwysowerhede: dié van die Herero’s, die Blanke administrasie en die van Nasionale Onderwys. Die Blanke administrasie het aangedui dat hulle ruimte op die grondvloer van die kantore wat hulle daar neffens die Nictus-meubelwinkel gebruik het, beskikbaar gehad en gesê ek is welkom om dit te gebruik.
“Die mense van Nasionale Onderwys het egter besluit om nie deel van die kantoor te wees nie wat geleë was in ’n gebou wat geskiedkundig deur die bevorderaars van apartheid gebruik is. Ek het dié soort teenstand van die Herero- of Kleurlingadministrasie verwag, maar die keer het dit van Nasionale Onderwys gekom deur die blanke groep wat hulself as verlig beskou het. Hulle kon nie verstaan dat ’n Swapominister so laag sou daal om sy kantoor daar te hê nie.
“Hulle het vergeet dat ons ’n beleid van nasionale versoening aanvaar het en ons as Regering ’n nuwe blaadjie omgeslaan het.
“Ek kan nog voorvalle onthou. Ek het eenkeer ’n vergadering by die Windhoek Onderwyskollege byeengeroep, waar die Universiteit van Namibië vandag is, en diegene wat verant woordelik was vir onderwys uit al die streke genooi. Dit was vroeg in 1991. Die vergadering moes wees om die breë onderwysbeleid uit te spel en te verduidelik. Die meeste van die senior amptenare in die onderwyssektor was mense van die voormalige Blanke, Kleurling, Nama en Herero administrasies. Die kollegas uit die noordelike streke was nie bereid om so ’n soort reëling te aanvaar nie. Hulle het gesê kameraad Angula is ’n hensopper wat uitverkoop het aan Koevoete en die Broederbonders. Hulle het ook vergeet dat ons besluit het om die nasie te bou op grond van nasionale versoening en om met daardie uitgangspunt al die onderwysdepartemente te verenig.
“Dit het tyd geneem vir mense om my standpunt in te sien. Teen 1995, toe die onderwysministerie in twee gedeel is, het ons egter daarin geslaag om die fondament vir ’n verenigde nasionale onderwysstelsel te lê, dansy die beleid van nasionale versoening.
“Nog ’n interessante ondervinding was met die integrasie van skole. Daar was aanvanklike weerstand van die bevoorregte voorheen blanke skole wat gesê het integrasie is ’n resep vir die verlaging van standaarde. Ons moet die versekering gee dat integrasie nie die ratio tussen onderwysers en leerlinge sou beïnvloed nie en ook nie bronne van hierdie skole onttrek nie.
“Die Grondwet stel dit duidelik dat enige iets wat na apartheid ruik, nie in Namibië geduld sal word nie. Voormalige blanke skole het teensinnig begin om swart kinders toe te laat. Daar was egter onderwysers wie se optrede daarop gemik was om die pogings te verongeluk. In sommige klasse is swart kinders gedwing om heel agter in die klas, agter die ander kinders te sit. Ander onderwysers het weer ’n swart kind wat ’n bydrae in die klas wou maak, geïgnoreer. Ons was gelukkig in daardie dae om ’n sterk studentevakbond te hê in Nansu. Nansu het ingestem om die implementering van die beleid van integrasiete monitor. Hulle het goeie werk gedoen en wanneer hulle iets verkeerd opgemerk het, het hulle dit aan die koerante gerapporteer. Ons het dit dan opgetel en ondersoeke ingestel.
“Die proses van integrasie het vlot verloop met die uitsondering van een geval by Windhoek Tegniese Hoërskool waar ’n swart meisie aangerand is. Dit was die enigste ernstige voorval.
“Die voorbeelde wat ek genoem het, geld die onderwyssektor, maar is ook van toepassing in die Staatsdiens. Die Grondwet bepaal in artikel 141: ‘Behoudens die bepalings van hierdie Grondwet, moet enigiemand wat volgens enige wet wat op die datum van Onafhanklikheid van krag is, ’n amp beklee, voortgaan om sodanige amp te beklee, tensy en totdat hy of sy bedank of aftree, verplaas word of ooreenkomstig die wet uit die amp ontslaan word. ’
“Diegene wat uitgesluit was in die verlede het nie van dié artikel gehou nie omdat hulle van mening was dat die mense wat vir die koloniale staatsdiens gewerk het, deel was van die onderdrukkende masjinerie.
“In die gees van nasionale versoening het baie mense voortgegaan om hul poste te beklee. Hulle het gedink die nuwe Regering gaan hulle afdank, maar dit het nie gebeur nie. Sommige van die mense het die nuwe politieke bedeling en die nuwe Regering omhels, terwyl ander uit hul eie vrye wil bedank het.
“Wanneer mense vandag die stories hoor, klink dit vervelig of verrassend, maar dit is hoe dit begin het. Geleidelik het mense na mekaar begin uitreik, en geleidelik het die wantroue verdwyn. Die negatiewe het vervaag en plek gemaak vir vertroue. Die leidende beginsel was altyd die beleid van nasionale versoening.
“Vandag is ek daarvan oortuig dat Namibië in ’n heeltemal ander fase is wat menseverhoudinge en ontwikkeling betref as waar ons twintig jaar terug was. Dit is ongelooflik hoe vinnig 20 jaar vlieg, want dit voel soos gister.
“In breë trekke moet die krediet vir die vrede en stabiliteit wat ons in Namibië geniet, gaan aan al die mense wat die beleid van nasionale versoening hul eie gemaak het, ondanks die feit dat die beleid deur Swapo voorgestel is wat beskou is as ’n ‘terroristiese en kommunistiese organisasie’.
“Wat die uitdagings van die toekoms betref, is die grootste vraag wat ons moet beantwoord hoe om onderontwikkeling, armoede en werkloosheid aan te pak.
“Armoede is die gevolg van ’n gebrek aan produktiewe bates onder die meerderheid van die bevolking. Dit is die grootste uitdaging wat aangepak moet word. Hierbenewens is wanvoeding verantwoordelik daarvoor dat armoede reproduseer. ’n Kind wat wangevoed is se intelektuele vermoë word beïnvloed en selfs al gaan die kind skool en ontvang onderwys, is hy of sy nie in staat om daarby baat te vind nie. Sodoende reproduseer armoede oor tyd.
“Werkloosheid vererger ongelykheid in die samelewing. Ons moet gevolglik ’n omvattende plan opstel om wanvoeding en algemene siektes onder die bevolking te bekamp sodat ons ’n gesonde bevolking het. ’n Gesonde bevolking is in staat om produktief te wees in alle sfere, hetsy onderwys, die ekonomie of enige ander pogings. ’n Gesonde nasie sal beter vaar.
“Die sleutel tot die stryd teen onderontwikkeling, armoede en werkloosheid is om ’n gesonde nasie te bevorder. Dit moet gedoen word deur voedselveiligheid te verseker, ’n verbeterde dieet onder gemeenskappe te vestig en immuniseringprogramme verpligtend te maak,” het Premier Angula gesê.