7.10.2008 Eenheidsgesprek tussen VGK, NGK opgeskort
DIE Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) se opskorting verlede week van alle gesprekke oor kerkeenheid met die NG Kerk sal nie in Namibië “verbygaan asof niks gebeur het nie, maar sal nie die proses hier stol nie”. Só het ds. Clem Marais, algemene sekretaris van die NG Kerk in Namibië, by navraag gereageer op die gebeure verlede week by die VGK se algemene sinode by Hammanskraal buite Pretoria.
Dié kerk het ’n moratorium geplaas op alle gesprekke oor kerkeenheid met die NG Kerk. Daarmee het die verhoudinge binne die groter NG Kerk-familie sy laagste punt in dekades bereik. Die NG Kerk is ook deur dr. Allan Boesak, vorige assessor van die VGK se algemene sinode, daarvan beskuldig dat “die demoon van rassisme” hom nog nie finaal verlaat het nie.
Ds. Marais sê hoewel die eenheidsgesprek onder die twee kerke se sinodes in die streke kan voortgaan, sal die skok van die Hammanskraal-gebeure se trillings ook hier gevoel word. Hy vertrou egter dat die proses nie daardeur tot stilstand gedwing sal word nie. Die VGK sê in sy besluit dat die gesprekke wat by streeksinodes aan die gang is, gerespekteer en eerbiedig moet word en dat die kerkleiers in die streke moet voortgaan met hul pogings tot versoening.
Ds. Marais sê daar sal egter van beide kante groter verdraagsaamheid moet kom. “Ons moet dalk ophou om soveel na mekaar te luister en meer en beter na die Here te luister. Ek kan nie anders as om te glo dat die Lewende Here ook in hierdie krisis teenwoordig is nie,” sê ds. Marais. “Dít wat vir ons lyk na ’n enorme doodloopstraat, kan die Here tot voordeel van sy koninkryk aanwend.”
Hy gee egter toe dat die gebeure die NG Kerk se getuienis in die wêreld ’n slegte naam gee en dié kerk in ’n geloofwaardigheidskrisis dompel. Die doodsklok vir die kerkeenheidsgesprek het egter al heelwat vroeër as verlede week begin lui. Die NG Kerk het einde verlede jaar sy gemeentes se kommentaar op die voorstelle vir kerkeenheid gevra en die reaksie was oorweldigend negatief, veral wat die belydenis van Belhar betref.
Toe die NG Kerk se moderamen daaroor aan die VGK terugvoering gegee het, het die VGK gevoel die NG Kerk verskuif die doelpale vir kerkeenheid. Daarom het die VGK die NG Kerk ’n tyd gelede in ’n brief meegedeel het dat hy nie sy weg kon oopsien om hom (die NG Kerk) as lid van die All African Conference of Churches (AACC) aan te beveel nie.
Volgens die VGK kon die NG Kerk nog nie die lakmoestoets vir sy afskeid van apartheid slaag nie. Dié toets is die aanvaardiging van die belydenis van Belhar, volgens die VGK. Die NG Kerk se moderatuur sê in ’n verklaring wat Vrydag uitgereik is hulle respekteer die VGK se besluit om die eenheidsgesprek op te skort.
Tog wil hulle vra dat die twee kerke se moderature mekaar moet ontmoet in ’n poging om vrede te maak. Dr. Henry Platt, moderator van die VGK in Namibië, kon nie in die naweek vir kommentaar bereik word nie.
Hy was nog in Suid-Afrika waar hy die algemene sinode bygewoon het. Hy het egter vroeër aan Republikein gesê hy hoop en glo dat die gesprek oor eenheid binne die groter NG Kerkfamilie in ’n goeie gees sal voortgaan. “Ons het ons in beginsel daartoe verbind en moet in liefde daarby hou.”
|