5.02.2010 Duurder water wink
WINDHOEK se stadsraad en -bestuur sal ná laasjaar se tariefstorm moet besluit hoeveel van verhoogde grootmaatwaterpryse wat die Regering laat verlede jaar goedgekeur het, hy aan inwoners gaan deurgee.
Dorpe en nedersettingsrade, wat almal onder ’n groeiende skuldlas gebuk gaan, sal waarskynlik ook oor dieselfde tameletjie kopkrap.
NamWater mag dorpe sedert 1 Februarie gemiddeld 8,7% meer per kubieke meter water vra, het segsman John Shigwedha bevestig. In landelike gebiede sal die grootmaatprys dieselfde bly, of met hoogstens 5% styg.
NamWater se rekeninge sal volgens mnr. Shigwedha reeds aan die einde van Februarie die verhogings reflekteer.
Verlede jaar al wou NamWater ’n 5%-verhoging hê. Windhoek het vir verhogings van 10% op die basiese prys van water en 8% vir verbruik begroot, maar het die plan midde ’n orkaan van kritiek uiteindelik nie deurgevoer nie. Swakopmund het ’n verhoging van 12% in die oog gehad.
“Jy plaas my in ’n ongemaklike situasie,” het mnr. Niilo Taapopi, hoof uitvoerende beampte van Windhoek se munisipaliteit, gister geantwoord op die vraag of die stad dadelik die verhoging gaan implementeer wat reeds goedgekeur is, of tot die volgende begrotingsiklus, wat in Julie begin, gaan wag met prysaanpassings.
Hy het benadruk dat die munisipaliteit nie ’n eenmanvertoning is nie.
“Ons het reeds met beplanning begin vir die nuwe begroting,” het mnr. Taapopi gesê. Oor waterpryse behoort daar volgens hom gou uitsluitsel te wees.
Mnr. Shigwedha sê NamWater het geen keuse as om steeds veral landelike gebiede aansienlik met sy prysstrukture te subsidieer nie.
“Ons onderverhaal in baie gebiede,” het hy verduidelik. NamWater het laas in 2007 toestemming van die Kabinet gekry om sy pryse op te stoot. Veral mense in Windhoek en Swakopmund dok dus volgens mnr. Shigwedha ook op om die mense rondom die kern-groeisentra te help.
“In ’n klein nedersettinkie,” sê hy, “vra ons byvoorbeeld N$2,25 in plaas van N$6. Soms kos dit tot N$25 om ’n kubieke meter water te lewer, maar mense betaal net N$4.” Myne betaal die volle verhaalprys.
Water uit die Swakop-reservoir sal voortaan teen N5,20 as eenheidsprys 8,7% meer kos as Januarie se N$4,78 per kubieke meter.
Die grootmaatprys vir water uit die Von Bachdam gaan basies met dieselfde persentasie op, van N$5,75 tot N$6,25.
Water by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako sal egter ’n hele 25,5% duurder wees – op van N$6,97 tot N$8,75.
Oshakati en Ondangwa se eenheidsprys verhoog met 2,6% van N$6,97 tot N$7,15.
Mnr. Shigwedha het benadruk dat NamWater geen beheer het oor hoe kliënte soos munisipaliteite die verhogings in hul finansies verwerk nie.
“Soms vra party van die instellings inwoners twee keer soveel as die prys waarteen NamWater die spesifieke dorpsraad aanslaan. En die blaam vir sulke hoë tariewe word gemakshalwe na ons verskuif omdat ons die waterbron is,” sê hy.
Die Parlement was verlede jaar oor politieke grense heen verenigd in sy eise dat planne dringend nodig is om vuisvoos verbruikers beter teen tariefskokke te beskerm.
|