8.02.2012 Duitsland vereer kerkman
 Vader Hermann Klein-Hitpass (links) en die Duitse ambassadeur, mnr. Egon Kochanke.
SEKSWERKERS van so jonk as tien jaar oud was die getuies toe ’n toegewyde kerkman wat sy lewe aan menseregte, veral dié van prostitute wy, met ’n hoogstaande internasionale toekenning vereer is.
Die Duitse ambassadeur, mnr. Egon Kochanke, het Maandag die Orde van Meriete namens die Bondsrepubliek van Duitsland aan vader Hermann Klein-Hitpass oorhandig.
Sowat 12 sekswerkers tussen die ouderdom van tien en 38 jaar oud het vader Klein-Hitpass na die ambassade vergesel en hartroerende lewensverhale van mishandeling vertel.
“Dié vroue het vigs, seksueel oordraagbare siektes en babas van mans gekry, omdat hulle hulself vir hul kinders opgeoffer het. Vergifnis vir die mans,” het Klein-Hitpass gesê.
“Ek sal nooit prostitusie regverdig nie, maar die Bybel is baie duidelik oor vergifnis. Sowat 95% van die vroue het seksueel oordraagbare siektes opgedoen, 93% van hulle is MIV-positief en moet antiretrovirale middels gebruik. Die meeste van hulle is deur familielede soos ’n pa, stiefpa of oom verkrag en een is selfs deur haar ma verkoop. Almal van hulle ly honger,” het hy vertel.
Klein-Hitpass het in 1995 Stand Together, ’n skuiling vir verkragtingslagoffers en sekswerkers, gestig. Dit was die enigste dagsorgsentrum in die land waar hy kos en hoop aan hulle verskaf het.
Volgens sy rekenaarstelsel is daar sowat 3 900 sekswerkers, “maar daar is vele meer van wie 500 kinders is.” Hy het vertel van hul skuilings wat koud in die winter, warm in die somer en nat in die reënseisoen is en vir gebruikte skoene vir hulle gevra.
“Sommige van hul kliënte is baie brutaal en hulle gaan soms onder hul vuishoue en messteke gebuk.”
Klein-Hitpass is in 1938 in Bocholt in Noordryn-Wesfal gebore en het in 1972 as priester na Namibië gekom, waar hy hom op Nyangana in Kavango gevestig het. Hy het hom veral teen apartheid, rassisme, diskriminasie en geweld uitgespreek waarna hy in 1978 tot persona non grata verklaar is en die land moes verlaat.
Ná onafhanklikwording het hy na Rundu teruggekeer en in 1993 is hy as die hospitaalkapelaan van alle hospitale in Windhoek aangestel.
Dit is egter aan sekswerkers wat Klein-Hitpass hoop, vertroue en geloof gee.
|