23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

16.09.2009

DTA stel sy manifes bekend

DIE DTA van Namibië het sy verkiesingsmanifes vir die November-verkiesing met die tema: “Kom ons stop die verrotting. Stem DTA, want jy verdien beter” bekendgestel.

Volgens mnr. McHenry Venaani, DTAparlementslid wat die verkiesingsmanifes in Windhoek aan die media bekend gestel het, is baie navorsing gedoen en bydraes verkry voordat die DTA die manifes saamgestel het.

Mnr. Venaani het genoem dat die DTA sal voortgaan om die mense van Namibië te dien en indien die party tot die regerende party van die land verkies word, sal dit aktief fokus op die jeug met klem op oneffektiewe onderwys en werkloosheid wat lei tot die groeiende armoede en ’n tekort aan hoop vir die toekoms.

“Die DTA sal ’n werkbare beleid en planne instel om werk deur die hele land te skep en verder sal die party misdaad en korrupsie beveg,” het hy gesê. Saam met die volledige verkiesingsmanifes het die DTA ook ’n opsommende samevatting in ’n pamflet beskikbaar gestel waarin kiesers binne vyf minute kan lees waarvoor die DTA van Namibië staan en wat sy planne vir die toekoms is.

In sy poging om werkloosheid en armoede te bekamp, beoog die DTA in sy manifes om weer vaardigheidsopleiding by skole in te stel. Die party beplan ook om waarde tot die land se natuurlike hulpbronne te voeg voor dit uitgevoer word. Dit wil ook Namibiërs in die boubedryf aanstel en die Arbeidswet in die verband streng toepas.

Oor grondhervorming sê die party onder meer dat hy boere sal hervestig wat oor die nodige vaardighede beskik en wat ’n redelike kans op sukses het. Verder sal potensiële boere na ’n proeftydperk geëvalueer word voor die finale toekenning van grond gemaak sal word.

Terselfdertyd sal die beperkinge in die huidige stelsel ondersoek en haakplekke uitgestryk word. Die DTA meen die dryfkrag van ekonomiese groei op plaaslike asook internasionale vlak moet wees om in samewerking met die private sektor werk in die hele land te skep.

Bosbou in die noordooste van die land word ook in die vooruitsig gestel, asook voedselproduserende skemas, ’n leerbedryf in die Suide en die bevordering van akwakultuur. Onderwys in die land moet ook reggeruk word deur die verbetering in onderwysers se salarisse en werkverrigting.

Die party sê ook in sy manifes dat indien hy tot regerende party verkies word, graad 10-druipelinge toegelaat gaan word om die graad te herhaal. Dit beoog ook om die vierkwartaalstelsel weer in te stel sodat dit in pas is met die ander SADC-lande.

Beurse sal beskikbaar gestel word vir leerlinge wat in wetenskap en tegnologie en ander velde wil studeer waar ’n tekort aan opgeleide mannekrag bestaan.

Ten opsigte van misdaad is die party van mening dat gespesialiseerde eenhede noodsaaklik is vir die bekamping van misdaad. Polisiebeamptes sal beter opgelei word en die noodsaaklike toerusting sal vir hulle beskikbaar wees om hul pligte uit te voer.

Die party fokus in sy manifes ook op maatskaplike dienste en noem dat meer geld aan die opgradering en instandhouding van klinieke en hospitale asook die opleiding van mediese personeel bestee moet word.

Maatskaplike pensioene moet volgens die DTA aangepas word en behuising vir armes moet ook ondersoek word. Die party noem dat hy die geld vir die projekte sal verkry uit die prioritisering van die belastingbetaler se geld om eerder dienste as luukshede te finansier.

Verder sal ondoeltreffende semi-staatsinstellings geprivatiseer word om die vermorsing van geld en werkverlies te voorkom. Die DTA sal ook alles in sy vermoë doen om korrupsie op alle vlakke te bekamp deur die instelling van effektiewe wigte en teenwigte om besteding te beheer.

Die party is ook van mening dat besparings aangehelp kan word deur die staatsdiens meer effektief te maak deur opleiding en verdere uitbreiding daarvan te stuit sonder om mense af te dank.

Die party het ook die versekering gegee dat geen openbare geld vir luukse bouprojekte aangewend sal word nie.

Die DTA se verkiesingsmanifes is by sy streekkantore beskikbaar en sal vanaf môre in elektroniese formaat op die party se webtuiste, www.dtaofnamibia.org.na beskikbaar wees.