19.10.2009 DTA sê ECN sleep opsetlik voete
DIE Verkiesingskommissie (ECN) is doelbewus daarop uit om opposisiepartye te frustreer en hulle enige geleentheid om beswaar te maak teen aspekte van die kieserslys te ontneem.
So sê mnr. Johan de Waal van die DTA wat op ’n nuuskonferensie in Windhoek ernstige probleme met die kieserslys en die bykomende registrasieproses uitgewys het.
Met net Vrydag wat nog oor was om die kieserslys te bestudeer en probleme aan te meld, is dit onwaarskynlik dat daar voldoende tyd sou wees om enigiets aan die toedrag van sake te doen.
Volgens hom is die eerste opvallende teken van net hoe ongeorganiseerd en onbevoeg die ECN is, die feit dat die ECN vroeër in ’n nuusverklaring aangekondig het dat 290 000 nuwe kiesers geregistreer is. Volgens statistiek wat egter op 8 Oktober aan die DTA beskikbaar gestel is, was daar 306 482 nuwe aansoeke, wat ook verandering van adresse insluit.
“Dit is duidelik dat die ECN nie ’n idee het van hoeveel nuwe kiesers geregistreer is gedurende die bykomende registrasieproses nie en hoeveel duplikate en adresveranderings geregistreer is nie,” het mnr. De Waal gesê.
Volgens die statistiek wat deur die ECN aan die DTA beskikbaar gestel is, kon net twee streke, Erongo en Kavango, ’n aanduiding gee van hoeveel nuwe aansoeke, hoeveel duplikate en hoeveel adresveranderings deel vorm van die herregistrasie. Die Oshanastreek het net ’n totale aantal nuwe registrasies en die syfers is nie per individuele kiesafdeling beskikbaar nie.
“Die DTA is van mening dat die partye kragtens wet die reg het om te weet hoeveel nuwe registrasies plaasgevind het, hoeveel daarvan duplikate was en hoeveel adresveranderings ingesluit is in die syfers wat deur die direktoraat van verkiesings bekendgemaak word,” sê mnr. De Waal.
Nog ’n manier waarop die ECN klaarblyklik alles in sy vermoë doen om opposisiepartye te verhinder om die kieserslys behoorlik te bestudeer, is die formaat waarin die kieserslys aan hulle beskikbaar gestel is.
Elke party het ’n CD-skyf met die rol daarop ontvang. Dit was egter in PDF-formaat wat dit onmoontlik maak om op enige sinvolle manier daarmee te werk.
“Toe ons die direktoraat vir ’n bruikbare formaat gevra het, het die direktoraat voorgestel dat elke politieke party die nodige rekenaar sagteware in die hande moes kry om die leêr terug te verwerk na Excel of enige ander program. Aangesien dit tyd in beslag neem, ás dit enigsins moontlik is, vra die DTA dat die ECN die spertyd vir die indiening van besware van Vrydag na aanstaande Woensdag verskuif ten einde aan partye die geleentheid te bied om die kiesersrol se inligting te bestudeer,” het mnr. De Waal gesê. Hy sê om die kiesersrol in die PDF-formaat te druk sou ongeveer 30 000 bladsye in beslag neem. Die formaat maak dit ook onmoontlik om enige ander rekenaarprogram te benut waarmee duplikasie opgespoor kan word.
“Dit is alles vir ons klinkklare bewyse dat die ECN alles in sy vermoë doen om die lewe vir opposisiepartye so moeilik as moontlik te maak en ons te frustreer. In enige bedeling behoort ’n onafhanklike verkiesingskommissie juis alles moontlik te doen om alle politieke partye wat aan verkiesings deelneem, by te staan en na hulle te luister en werk van hul bekommernisse te maak. Net die teenoorgestelde is hier die geval,” het mnr. De Waal bygevoeg.
|