24.07.2008
DStv open hul wêreld
Die onderwyskanale van DStv raak al meer gewild onder onderwysers en leerlinge. Een skool wat veral daarby baat, is die Junior Sekondêre Skool Okatope wat onlangs ’n prestasie-sertifikaat van MultiChoice Namibië ontvang het. In ’n brief wat die skool aan MultiChoice gerig het, het hulle geskryf dat die DStvonderwyskanale ’n doeltreffende hulpbron is vir skole, aangesien dit studente toegang bied tot ’n wêreld van kennis, terwyl hulle die geleentheid kry om hulself met Engels as spreektaal vertroud te maak.
MultiChoice het ook die vooruitgang gesien van skole wat van die pakkette voorsien is, veral omdat dit leerlinge in afgeleë plekke die kans bied om beelde van dwarsoor die wêreld te sien – in onderwerpe van geskiedenis en biologie tot die nuutste tegnologie. Wat voorheen beperk was tot ’n handleiding, kry nou lewe in volkleur. Boonop bring die onderwyspakket ’n alternatiewe onderrigmetode na die klaskamer, terwyl tegnologie ook bekend gestel word.
MultiChoice Namibië het tot hede hulpbronsentrums by ’n honderd skole in verskillende streke gevestig. Die sentrum bestaan uit ’n ten volle toegeruste DStvstelsel, ’n videomasjien en ’n 74cm televisiestel. Die DStv-onderwyspakket word dan gratis aan die deelnemende skole se hulpbronnesentrums verskaf. Die pakket bestaan uit National Geographic, Mindset Learn, History, Discovery, BBC world, Animal Planet, NBC en SABC Africa. Die deelnemende skole is deur die Ministerie van Onderwys bepaal .