7.10.2008 Dresselhaus-hofsaak hervat
DIE Dresselhaus-bedrogverhoor kon die week nie soos geskeduleer voortgaan nie, omdat die staat nie daarin kon slaag om sekere dokumente aan die beskuldigdes voor te lê nie. Die verhoor is in Februarie vanjaar uitgestel nadat die sleutelgetuie in die saak, mnr. Ivan Ganes, se kruisondervraging nie sonder die dokumente kon voortgaan nie.
Regter Collins Parker het destyds gelas dat die staat alles in sy vermoë moet doen om die dokumente wat in daardie stadium steeds in besit van Telecom Namibië was, in die hande te kry sodat dit voorgelê kan word. Agt maande na die hofbevel was van die dokumente steeds nie beskikbaar nie en die hof is versoek om die verhoor tot 2 Februarie aanstaande jaar uit te stel.
Op die dag sal die partye in die hof bymekaarkom om te sien hoe die saak daar uitsien. Advokaat Natasha Bassingthwaighte het namens mnr. James Camm aangedui dat sy voor 12 Desember vanjaar ’n aansoek om die ontslag van haar kliënt gaan indien. Die aansoek sal die Grondwet en spesifiek aspekte van artikel 12 daarvan in die Hoërhof toets.
Die artikel van die Grondwet handel oor die reg wat ’n persoon tot ’n regverdige verhoor het. Adv. Bassingthwaighte gaan in die aansoek aanvoer dat getuienis teen haar kliënt nie dokumentêr bewys kan word nie. Alle klagte teen mnr. Camm is gegrond op getuienis wat deur mnr. Ivan Ganes tydens sy eie kriminele verhoor afgelê is.
Mnr. Camm se regsverteenwoordiger voer voorts aan dat mnr. Ganes ooreenkomstig ’n kontrak wat hy met Telecom Namibia aangegaan het om moontlik tronkstraf in ander sake vry te spring, veroorsaak dat haar kliënt moontlik kwaadwillig by die bedrogsaak betrek is.
Mnr. Ganes het reeds tronkstraf uitgedien omdat hy skuldig bevind is aan bedrog- en omkoopklagte. Hy het geld van Telecom Namibia verduister. Volgens mnr. Camm se regspan is dit kragtens die Grondwet onregverdig om die hoofverdagte in die bedrogsaak ook as die hoofgetuie namens die staat te gebruik.
Die aansoek gaan die hof versoek om mnr. Camm op grond van die onregverdigheid te ontslaan. Die tweede gedeelte van die aansoek gaan handel oor die feit dat die verhoor jare reeds voortsleep en dit daarom die koste van verteenwoordiging onnodig laat styg.
Die ander twee beskuldigdes, mnre. Heinz Dresselhaus en Ettienne Weakley, oorweeg dit om ’n aansoek kragtens die Strafproseswet by die hof in te dien. Die aansoek gaan onduidelikhede in die Maatskappyewet aanspreek. Regter Parker het ingestem om die verhoor tot Februarie aanstaande jaar uit te stel en die volgende verhoordatum voorlopig vir 8 Junie tot 3 Julie 2009 geskeduleer.
|