8.09.2010 Dorpe in donker
VERSKEIE klein dorpe landwyd sit vandag sonder krag nadat die dorpe se rade nie hul NamPower-rekeninge betaal het nie.
Inwoners en sake-eienaars van Okahandja het gister betoog nadat dié dorp se krag gisteroggend afgesny is. Van die groter sakeondernemings het dringende versoeke aan die topbestuur van NamPower gerig en die kragtoevoer is kort voor sluitingstyd weer herstel.
Ander dorpe was nie so gelukkig nie en sal vandag steeds sonder elektrisiteit wees nadat die dorpsrade en die nasionale kragvoorsiener nie tot ʼn vergelyk oor die betaling van uitstaande geld kon kom nie.
Kalkrand, wie se dorpsraad reeds maande met die dorp se kragtoevoer sukkel, is sedert gisternamiddag sonder krag.
Volgens mnr. Rudie Hansen, eienaar van die Shell diensstasie op Kalkrand, skuld die dorp N$176 000 aan Nampower. Dit is nadat N$130 000 reeds aan NamPower oorbetaal is en die dorpsraad het volgens hom probeer om reëlings met NamPower te tref om die res van die skuld in paaiemente van N$35 000 af te betaal.
Hy sê egter dat dit nie so maklik is nie aangesien die dorp se kraggebruik en dit wat verkoop word, nie ooreenstem nie. Die probleem word deur die dorpsraad ondersoek en ʼn tender vir die dienste vir ʼn ingenieur is aangevra, maar die ingenieur was nog nie in die dorp om die probleem te ondersoek nie.
Die hoof uitvoerende beampte van Kalkrand se dorpsraad kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Mnr. Hansen het ook gesê sy besigheid het die enigste bakkery op die dorp en vir hom om sonder krag te wees beteken dat die dorp se inwoners nie brood op die tafel sal hê nie. Die dorp se rioolstelsel is ook van die kragtoevoer afhanklik.
Volgens mnr. John Kaimu, bestuurder van bemarking en kommunikasie by NamPower, het gister bevestig dat Witvlei en Maltahöhe se kragtoevoer vandag afgesny sal word.
|