Advertensie
Advertensie

Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Lesers 2010


Kyk saam!

Moorddossier


Advertensie
Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

25.08.10

Skaduwêreld ontbloot

23.08.10

Ongeluk eis bekende

23.08.10

Nujoma: Vat die grond

24.08.10

Tragedie in sjebeen

2.07.2009

Donker tonnel voor Zim-boere

SUIDER-AFRIKAANSE staatshoofde, wat juis in die spervuur is vir hul onvermoë om dusver die Mugabe- regering in Zimbabwe tot orde te roep vir hierdie buurland se minagting van SADC se streekhof in Windhoek, sal blykbaar eers in September hierdie Tribunaal se jongste verdoeming van Zimbabwe se houding teenoor die SADCverdrag en hierdie hof se gesag bespreek.

’n Angstige wag van minstens twee maande lê blykbaar nog voor vir blanke boere in hierdie buurland wat steeds hoop dat streekleiers ondanks die doodswyg van hierdie strydpunt tot hul redding sal kom.

“In ’n land waar mense doodgaan van die honger sou ’n mens verwag het dat nie net Zimbabwe se eie leiers nie, maar ook sy bure s’n groter haas met hierdie kwessie sou gehad het,” het mnr. Ben Freeth van hul familieplaas Mount Carmel telefonies aan Republikein gesê.

Sy skoonpa, mnr. Mike Campbell, was saam met mnr. Richard Etheredge die aansoekers in Zimbabwe se jongste skuldigbevinding dat sy regering die Tribunaal en sy bevele minag.

Al was daar volgens mnr. Freeth nog nie op hul plaas nuwe moleste sedert hierdie uitspraak nie, kan hulle en vele ander boere dalk teen September al van hul grond gedruk wees. Bevestiging kon nie uit Gaborone verkry word dat daar dalk nog vroeër ’n hernude buitengewone spitsberaad kan plaasvind nie.

Die Tribunaal van die Suider- Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) het vroeg in Junie vir die tweede keer sedert verlede jaar beslis dat mede-staatshoofde moet optree teen die regering van mnr. Robert Mugabe vir die nie-nakoming van ’n beskermingsbevel wat aan ’n groot groep beleërde wit boere toegestaan is.

Sedertdien het die Zimbabwiese minister van justisie en regsake, mnr. Patrick Chinamasa, volgens die Zimbabwe Times egter opnuut gesê dat die Tribunaal geen jurisdiksie oor Zimbabwe het nie.

Na sy mening is plaasbesettings en onteiening sonder vergoeding geregverdig. Hy het voorgestel dat die streekhof ophou om mnr. Mugabe enige lesse oor wet en orde te probeer leer.

Die Tribunaal se griffier, Regter Charles Mkandawire, het bevestig dat die saak glad nie op die agenda was tydens SADC se mees onlangse buitengewone spitsberaad in Johannesburg oor Madagaskar nie.

Hy het benadruk dat net vyf staatshoofde hier teenwoordig was. Regter Mkandawire het beklemtoon dat daar ’n hele proses is om die nodige verslag voor ’n spitsberaad te kry. Hy verwag dat die saak dus eers in September in Kinshasa, in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), op die sakelys van die streek se hoogste uitvoerende gesag se volgende gewone spitsberaad sal wees.

“Dit is nie asof ons net kan opspring en aandring om gehoor te word nie,” het die griffier benadruk. Me. Leeva Martin, ’n Namibiër werksaam by die SADC-sekretariaat in Gaborone se skakelafdeling, het gesê hoewel daar nie huidig nog ’n buitengewone beraad op hande is nie, leiers altyd kan vergader indien die noodsaak ontstaan.

Die MDC wil al vandeesmaand ’n nuwe spitsberaad hê. Soos die opposisie sal ook wit boere dalk egter nog twee maande moet vasbyt vir antwoorde – indien dit kom. Hoop dat die MDC genoeg mag het om ’n verskil te maak, taan volgens mnr. Freeth elke dag meer.

“Veral ná onlangse uitsprake deur mnr. Tsvangirai dat net ’n handjievol boere glo deur afsetters bedreig is en dat hierdie voorvalle uit verband geruk is.”

Vir boere, vir wie elke dag belangrik is as hulle darem volgende jaar ’n goeie oes wil verseker, is SADC se sloerdery volgens mnr. Freeth ontsettend frustrerend.

“Om ons uit ons huise te kry, is al wat hulle wil hê,” luidens hom.