20.11.2008

Dodelike botsing versper kuspad

© Verskaf
Een van die uitgebrande wrakke op die hoofweg tussen Swakopmund en Windhoek.
TWEE brandende padreuse het Maandagaand bykans vier ure lank die hoofweg tussen Swakopmund en Usakos versper ná ’n gruongeluk waarin ’n man dood is nadat altwee sy bene afgeskeur was. Nog drie mense is ernstig beseer toe twee groot vragmotors reg van voor gebots en in vlamme uitgebars het en ’n derde van die pad geloop het.

Reddingswerkers het hulle uit verskeie windrigtings na die toneel gehaas om die gebied te beveilig en na beseerdes om te sien. Die ongeluk waarin mnr. Connie van Rooyen van Walvisbaai dood is en mnre. Jackson Vendura en Moses Kariseb van Okahandja en Paul Kahulik van Windhoek beseer is, het Maandag sowat 20:30 ongeveer 85 km vanaf Swakopmund op die pad na Usakos gebeur.

’n Brandstofvragdraer van Unitrans wat vanaf Windhoek na Swakopmund gereis het en ’n aankomende vragmotor van Swakopmund met motors wat bestem was vir Angola, het mekaar blykbaar in ’n draai skuins van voor gestamp. Die een vragmotorbestuurder het beheer oor die voertuig verloor en van die pad afgery.

Dit het die brandstofvragdraer met ’n derde vragmotor, wat ook motors vervoer het, reg van voor laat bots. Al twee die padreuse het aan die brand geslaan. Die slag van die botsing was so hewig dat die tenk van die brandstofvragdraer oopgebars het. Die tenk was leeg. Die geweld van die botsing het die een bestuurder uit sy voertuig geslinger.

Al twee sy bene is in die botsing geamputeer. Hy is na die staatshospitaal op Swakopmund gebring waar hy later aan sy beserings beswyk het. Die ander drie beseerdes is na die staatshospitaal in Windhoek vervoer. Die pad moes vir verkeer gesluit word terwyl nooddienste die brand onder beheer gebring het. Volgens die hoof van die brandweerdiens op Swakopmund, mnr. Tony Moller, was die reddingspoging ’n skitterende voorbeeld van die uitstekende samewerking wat tussen die polisie en die verskillende nooddienste bestaan, asook die nooddiensspanne van die twee myne, Rio Tinto en Uramin.

Rio Tinto het sy brandweer- en ambulanswa na die toneel gestuur, terwyl Uramin met ’n ambulanswa bystand verleen het. Ook op die toneel was die staatsambulansdiens, die private diens St. Gabriel, die Swakopmundse brandweer en Nampol.

Die ambulansdiens EMed was ook op ’n gereedheidsgrondslag geplaas. Volgens mnr. Moller het dit die brandweer sowat vier ure geneem om die brandende voertuie onder beheer te kry. Weens die gevaar van moontlike ontploffings kon daar toe eers ’n ompad vir motorryers gemaak word.

Die pad is teen 00:30 weer vir verkeer oopgestel. Die skakelbeampte van die polisie in die Erongo-streek, sers. Julia Nuyoma, het bevestig dat ’n saak van strafbare manslag na aanleiding van die ongeluk ondersoek word.

Anneli Erasmus