3.07.2009 Dit is nie ’n heksejag, verseker vakbondleier
“DIT is nie ’n aanslag op mnr. Niilo Taapopi nie. Ons het geen rede om hom aan te val nie,” het die sekretaris van die Namibiese Unie vir Staatsdienswerkers (Napwu), mnr. Peter Nevonga, verseker oor die petisie wat Napwu verlede week ná ’n betoging aan die munisipaliteit se hoof uitvoerende beampte oorhandig het.
Die Napwu-petisie bevat verskeie ernstige klagte van wanbestuur en dreig met verdere stappe indien hulle nie tasbare reaksie kry nie. Toe Republikein dié week met mnr. Nevonga gepraat het, het hy gesê die twee partye is besig met onderhandelinge en dat meer inligting later bekend gemaak sal word.
Die petisie wat mnr. Taapopi namens die burgemeester, mnr. Mathew Shikongo, ontvang het, sluit in klagte van bedrog, rassisme en voortrekkery, asook die feit dat die munisipaliteit Napwu ignoreer in verband met personeelkwessies.
Napwu se takorganiseerder van die sentrale streek, mnr. William Immanuel, het aan Republikein gesê die unie het reeds links en regs briewe aan die munisipaliteit gestuur om te reël vir ’n ontmoeting vir die vasstelling van Napwu se rol en funksies, “maar ons het steeds niks van hulle gehoor nie.
“Ons soek net antwoorde en regstellings by hulle sodat regverdigheid kan geskied,” het mnr. Immanuel gesê.
Napwu wys op miljoene dollar wat vermis of verkwis word, terwyl Windhoek se inwoners hoë munisipale koste moet dra. Napwu bevraagteken ook die aanstellings in agt top posisies by die munisipaliteit.
Die vakbond bevraagteken hul kwalifikasies en wil weet hoekom almal wit mense is. Die hoë salarisse van bestuurslede is ook ’n kwessie in die petisie. Die petisie sluit ook in klagtes van vier regspraktisyne wat aangestel is en, volgens Napwu nie hul werk doen nie. Napwu meen die regsafdeling kan gesluit word, want dit is onnodig, sodat geld gespaar kan word.
“Kom ons herinner onsself aan die missie van die munisipaliteit – om bekostigbare dienste aan inwoners te bied. Die vraag bly egter, is die munisipaliteit werklik verbind tot sy eie missie en visie?” lui die petisie.
Die petisie verwys ook na die feit dat die munisipaliteit huise wil verkoop waarin personeellede reeds meer as 15 jaar woon. Blykbaar het Napwu reeds die bestuur van die munisipaliteit genader en gevra vir ’n ontmoeting hieroor, maar het tot nou geen terugvoering gekry nie.
Miljoene Namibiese dollar is blykbaar bestee aan die koop van nuwe vragmotors, maar volgens Napwu word ou vragmotors steeds gebruik. By die busdiensafdeling het die forensiese ouditeurs bedrog ontdek waartydens die munisipaliteit miljoene dollar verloor het. “Wat het gebeur met die aanbevelings van die ondersoek?” wil Napwu weet.
Mnr. Immanuel het aan Republikein gesê niemand weet iets van die forensiese verslag oor die busdiens nie. “Ons weet nie eens wat die aanbevelings is nie. Alles word in die duister gehou,” het hy gesê.
In die park- en tuinafdeling het die munisipaliteit blykbaar N$2 miljoen oor die afgelope drie tot vier jaar verloor.
Napwu wil weet wat met die verantwoording van die bestuur geword het en hoekom ’n junior personeellid afgedank is.
|