Dienste by staatshospitale 'disintegreer'

TOESTANDE by die staatshospitale in Windhoek het verlede week opnuut onder skoot gekom met die nuus dat die skanderingsmasjien van die Windhoek Sentrale Hospitaal reeds twee weke buite werking is.
Pasiënte is klaarblyklik nie van hierdie situasie in kennis gestel nie, met die gevolg dat baie mense, ook dié wat spesiaal na die stad moes reis vir afsprake wat maande gelede gemaak is, onverrigtersake by die deure van dié eenheid moes omdraai.
'n Vrou van Walvisbaai het gesê dat personeel bloot hul skouers opgetrek het op die vraag waarom pasiënte nie vooraf laat weet is dat hulle nie gehelp kan word nie.
Gerugte het die rondte gedoen dat die skandeerder nog vir vyf weke buite werking kan wees voor die nodige onderdeel uit Holland hier sal aankom. Mnr. Ernst Reith, 'n tegnoloog wat besig is om die skandeermasjien te diens, het egter bevestig dat die nodige onderdele hopelik gister reeds vanaf Johannesburg in Windhoek sou aankom. Intussen word noodgevalle na private hospitale verwys.
Die staatshospitale in Windhoek en Katutura was die afgelope maande herhaaldelik in die nuus. Aanvanklik weens die feit dat die lugversorgingstelsels en daarna die wasmasjiene by die Windhoek Sentrale Hospitaal onklaar geraak het. Die jongste inligting in hierdie verband is dat lugversorging by die Sentrale Hospitaal herstel is. Die stelsel by die staatshospitaal in Katutura moet nog aandag geniet en probleme met wasmasjiene duur voort maar dié saak word glo ondersoek.
"Gelukkig is die winter hier," het 'n geneesheer opgemerk oor die gebrek aan lugversorging by die Katutura Hospitaal. Geld is egter reeds bewillig vir nuwe lugversorgingstelsels by beide hospitale waarvoor tenders uitgereik sal word.
Intussen was Republikein in gesprek met verskeie geneeshere van wie sommige ernstig bekommerd is oor die stand van dienste by staatshospitale. Een het so ver gegaan om te sê dat "dienste disintegreer" en dat hy bekommerd is oor die welstand van pasiënte, veral omdat swak dienste en geriewe dokters nie vrywaar van klagte van onbevoegdheid nie.
Ander het hierdie inligting asook die feit dat die moraal onder personeel dikwels laag is, onder meer oor swak vergoeding, bevestig. Nog 'n kontensieuse saak is die staat se voorkeur vir kundiges uit ander lande as Suid-Afrika. Hierdie "regstellende aksie" het volgens sekere dokters beslis 'n invloed op standaarde en maak nie sin nie, omdat die dokters nie die omgangstale van die land magtig is nie.
Sekere geneeshere meen ook dat die agteruitgang van dienste by die Sentrale Hospitaal die inrigting van 'n harteenheid daar minder lewensvatbaar maak. "So 'n spesialiseenheid verg ondersteuningsdienste van die hoogste gehalte," verduidelik een. Party meen ook dat die geld wat 'n harteenheid gaan kos, beter gebruik kan word om bestaande dienste op te knap en geriewe te monderniseer.
Boonop kom dit voor of die hoop dat die eerste hartpasiënt teen Julie vanjaar plaaslik geopereer sal kan word, ooroptimisties was. Dié uitspraak is aan die einde van verlede jaar gemaak met die terugkeer van 'n tweede groep Namibiërs wat ingevolge 'n nuwe ooreenkoms in Kenia geopereer is.
Die besluit om staatspasiënte na die Kenyatta Hospitaal in Nairobi te stuur, is geneem omdat dié instansie dieselfde gehalte werk lewer as private hospitale in die Kaap, maar teen veel bekostigbaarder pryse. Operasies wat in Suid-Afrika sowat N$65 000 kos, bedra ongeveer N$35 000 in Kenia.
Hoewel dokters toegee dat Kenia se sjirurgie van hoogstaande gehalte is, bestaan ongelukkigheid steeds in sekere kringe dat die hand wat deur Suid-Afrika uitgereik is in dié verband, geweier is. 'n Private instelling in die streek het aangebied om 'n harteenheid in Windhoek in te rig, die vloerruimte te huur én opleiding te voorsien.
Persone betrokke by hierdie onderhandelinge sê dat genoemde voorstel om politieke redes geïgnoreer is. Hiervolgens sou die Regering eerder vennootskappe elders sluit as met die vroeëre "wit apartheid-Suide" sonder om in die beste belang van pasiënte op te tree.
Sekere mense dui onder meer daarop dat Suid-Afrika veel nader is as Kenia en dat dit dus veel minder logistieke probleme met die vervoer van pasiënte lewer. Eweneens dui hulle daarop dat uitsprake dat pasiënte nie meer gehelp kan word nie weens ellelange waglyste, onwaar is.
Waglyste bestaan wel by staatshospitale in Suid-Afrika maar nie by private hospitale waarheen staatspasiënte tradisioneel gestuur is nie. Terselfdertyd sê dié persone dat plaaslike uitsprake dat hartsjirurgie in Suid-Afrika tot N$80 000 kos, onjuis is. Operasies word naamlik teen kosprys, sowat N$65 000, gedoen.
'n Ander argument is dat 'n harteenheid se lopende koste tussen N$8 en N$12 miljoen per jaar kan beloop, en dat dit dus meer bekostigbaar sal wees om Namibiese pasiënte elders te laat opereer. 'n Harteenheid in Windhoek sal ook net lewensvatbaar wees as genoeg pasiënte uit buurlande getrek kan word.
Die betrokke partye ontken dat hul griewe suur druiwe is omdat sjirurge in Suid-Afrika 'n baie winsgewende inkomstebron sal verloor wanneer Namibië sy staatspasiënte elders laat opereer of self kan help. Die reaksie hierop was dat dokters wel goeie sake doen, maar dat dit 'n gevolg is van die uitstekende dienste wat hulle bied.
Volgens die riemtelegram gaan die harteenheid in Windhoek gefinansier word deur 'n muti-miljoen dollar skenking van die Spaanse regering.'n Gedeelte van die skenking gaan ook gebruik gaan word om ander dienste op te knap. Amptelike bevestiging kon egter nie hiervoor verkry word nie.
Republikein het 'n uitvoerige lys vrae oor bogenoemde sake aan die Permanente Sekretaris van Gesondheid, dr. Kalumbi Shangula, voorgelê. Sy reaksie sal volledig gepubliseer word sodra dit ontvang is.