5.11.2008
Die wonde wat New York nooit sal vergeet nie
IN laer Manhattan lê ’n gapende wond waar eens die majestieuse tweelingtorings van die Wêreldhandelsentrum gestaan het. Neffens die toegesperde gebied, by 120 Libertystraat, tussen Greenwich en Church strate is ’n nederige museum wat deur die families van die 2750 slagoffers wat op 11 September 2001 tot stand gebring is.
Die museum is reg langs die brandweerstasie wat Enjin 10, Leer 10, gehuisves het van waar die meeste brandweermanne wat met hul lewens geboet het, gekom het. Die museum is ’n manier om te onthou. Dis ’n manier vir die naasbestaandes om hul pyn met ander te deel.
Dis ’n manier om hulde te bring aan die helde, die brandweermanne en lede van die polisie, wat op daardie dag hul lewens gegee het om soveel as moontlik mense uit die brandende tweelingtorings te red, nadat twee gekaapte vliegtuie in die twee torings vasgevlieg het. Maar dis veel meer as ’n huldeblyk. Dis ’n viering en saluut aan hul lewens, nie net aan hul dood nie.
Met die instap begroet ’n 8 voet hoë skaalmodel van die eens majestieuse landmerk geboue ’n mens. Die poppies, wat die mense op die grondvlak uitbeeld en wat presies volgens skaal in vergelyking met die twee geboue is, lyk soos miere. Die gids, wat een van die brandweermanne was wat gemoeid was met die opruiming van die toneel van 12 September af, praat met trots in sy stem oor die majestieuse geboue.
Hy vertel dat op bewolkte dae die boonste verdiepings in sonlig gebaai was terwyl mense afgekyk het op die wolke. Inderdaad wolkekrabbers. Hy vertel dat van die hoër dele van die torings, kantoorwerkers gereeld klein vliegtuie wat in die omgewing gevlieg het onder hulle kon sien.
Hy sê vanweë die geweldige hoogte van die geboue, het hulle in die wind gewieg en gekraak soos die staalstrukture die beweging geabsorbeer het. Hy vertel dat die torings so groot was dat dit byna dorpies met eie karakters was, dorpies met eetplekke, haarsalonne, dokterspreekkamers, winkels, rolprentteaters en vele meer.
Twee monumente vir die mens se vindingrykheid, twee trotse torings wat Amerika se finansiële mag gesimboliseer het. Maar nietemin, twee torings wat nie die aanslag van blinde haat van fundamentaliste kon trotseer en die lewens van die mense wat met soveel trots in die ingewande van die torings gewerk het, kon beskerm nie.
Twee torings wat na enkele ure op hul fondamente ineengesak het, soos ’n dier wat in die kop geskiet is. Argitekte het agterna verduidelik dat die torings so goed ontwerp was, dat hulle, toe hulle die stryd om regop te bly gewonne moes gee, op hul fondamente gesak het en nie omgeval het en nog meer skade aan omliggende geboue in laer Manhattan aangerig het nie.
Stap ’n mens verder in die museum word die eerste bomontploffings, dié van 26 Februarie 1993, herdenk asook die paniek en skok van die gebeure van 11 September. Met die deurstap hoor ’n mens dele van gesprekke wat die veelvuldige perspektiewe van mense wat die gebeure van daardie dag beleef het deur klank en video weergee.
In die derde gallery word die nadraai en herwinningspogings herdenk. Groot grafiese voorstellings teen die mure bring die gebeure terug in die geestesoog. In glaskabinette is oorblyfsels wat uit die puin herwin is te sien: ’n verbrande, skeefgetrekte vensterraam van een van die vliegtuie wat as moordwapens in die aanval gebruik is; ’n vuil teddiebeertjie, ’n half gebrande Amerikaanse vlag, twee .357 Smith & Wesson rewolwers wat deur die intense hitte van die ontploffings en brand inmekaar vasgesmelt is.
Dit kom waarskynlik uit die federale kantore wat in die Wêreldhandelsentrum gehuisves was, as deel van getuienis wat later in hofsake gebruik moes word. Die saal bring hulde aan die duisende vrywilligers wat vir maande onverpoosd gewerk het, eers om enigiemand wat moontlik lewendig in die puin begrawe was, te red en daarna om elke stukkie menslike weefstel te herwin sodat die naasbestaandes hulle hul geliefdes kon begrawe.
Teen die een muur van die gallery is boodskappe en foto’s wat naasbestaandes destyds teen die drade en aan mure in die omgewing van die Wêreldhandelsentrum opgerig het, op soek na hul geliefdes of enige nuus oor wat van hulle geword het. Laggende sorgelose gesigte wat geen kans gegun is deur die gewetenlose barbaarsheid van hul aanvallers nie.
Onder in die kelder van die gebou is kennisgewingborde teen die mure en kaartjies vir besoekers om in hul eie woorde, in hul eie tale, hul gedagtes oor die gebeure van 11 Sep tember 2001 te deel. Sedert die museum in September 2006 sy deure geopen het, het meer as 500 000 mense van regoor die wêreld dit reeds besoek.
Planne vir die nuwe Wêreldhandelsentrum is ’n inspirerende triomf vir die onoorwonne gees van nie net Amerika nie, maar in die besonder New Yorkers. Die laaste gebou wat op 11 September 2001 op die perseel van die Wêreldhandelsentrum in duie gestort het, was die sogenaamde Wêreldhandelsentrum 7.
Dié gebou is verdwerg deur die reuse torings, maar soos talle ander geboue in die omgewing was die impak en die val van die torings genoeg om sulke ernstige strukturele skade te berokken dat dié geboue ook in die slag gebly het. Wêreldhandelsentrum 7 was soos die spreekwoordelike feniks, die eerste om weer uit die as te herrys.
Dié gebou is in Mei 2006 geopen en is die eerste volwaardige “groen” gebou in New York wat heeltemal ekologies vriendelik is. Nog nie al die kantoorruimte in die gebou is verhuur nie en teen nagenoeg US$800 per vierkante meter is dit ’n redelike eksklusiewe adres. Tog wys die ontwikkelaars en eienaars, Silberstein Properties daarop dat kantoorruimte in middel-Manhattan vir veel duurder en dikwels meer as ’n duisend Amerikaanse dollar per vierkante meter verhuur word.
Daar is ook die emosionele aspek van maatskappye wat mense in die tragedie van 9/11 verloor het, wat nog nie reg is om na laer Manhattan terug te keer nie. Die 52 verdieping gebou is deur die argitekte Skidmore, Owings & Merrill ontwerp. Van die boonste verdieping af het ’n mens ’n arendsuitsig oor die laer deel asook oor die wolkekrabbers van Middel-Manhattan, oor die East- en die Hudson-riviere, verby die Statute of Liberty en Ellis Island.
Maar kyk ’n mens af, lê die wond waar die tweelingtorings gestaan het, nog oop en stukkend. Dit is ’n miernes van bedrywighede met voorbereidings vir die bou van die ander toringgeboue wat vir die terrein beplan word. In die voetspore van die tweelingtorings sal niks gebou word nie. Twee refleksiepoele sal die plekke merk waar die twee reuse gestaan en geval het.
Die sentrale gebou op die terrein sal Een Wêreldhandelsentrum, ook bekend as die vryheidstoring wees. Dit is deur dieselfde argitekte as Wêreldhandelsentrum 7 ontwerp. Met voltooiing sal dit ’n 2,6 miljoen kubieke voet gebou wees wat 1 776 voet hoog sal toring met ’n verligte antenna bo-op die dak. Benewens die 2,6 miljoen vierkante meter kantoorruimte op 69 verdiepings, sal die gebou ook ’n uitkykdek en ’n restaurant op die boonste verdieping hê.
Twee Wêreldhandelsentrum word beplan vir 200 Greenwichstraat met Lord Norman Foster as argitek. Die gebou van 78 verdiepings sal 2,3 miljoen vierkante voet kantoorruimte en 143 000 m² as inkopiesentrum beskikbaar maak. Die gebou sal 1 254 voet hoog en die tweede hoogste wolkekrabber op die perseel wees.
Die gebou is om ’n kruisvorm sentrum ontwerp en bestaan uit vier kantoorblokke. Die gebou akkommodeer ook die meesterbeplanner van die Wêreldhandelsentrum kompleks, Daniel Libeskind se sogenaamde “wig van lig” konsep wat jaarliks op 11 September geen skadu op die monument sal werp nie.
Drie Wêreldhandelsentrum, by 175 Greenwichstraat, oorkant die Wêreldhandelsentrum monument, sal die derde hoogste gebou op die terrein wees en is ontwerp deur die argitek Lord Richard Rogers. Dié gebou sal met voltooiing 1 155 voet bo straatvlak wees en 2,1 miljoen vierkante voet kantoorruimte en 133 000 vierkante voet inkopieruimte beskikbaar stel. Die ontwerp is sodanig dat al die hoeke van die gebou sonder kolomme gebou word wat diegene in die geboue ’n onbelemmerde panoramiese uitsig van 360 grade oor New York sal gee.
Vier Wêreldhandelsentrum, by 150 Greenwichstraat, sal 947 voet hoog wees en sluit 53 verdiepings kantoorruimte van 1,8 miljoen m² in. Dit is ontwerp deur die argitek Fumihiko Maki. Tweederdes van die gebou sal beset word deur die haweowerheid van New York en New Jersey asook die Stad van New York. Die ontwerp van Vyf Wêreldhandelsentrum in Libertystraat tussen Washington- en Greenwichstraat is nog nie voltooi nie.
Hierbenewens sal ’n transportsentrum asook ’n sentrum vir die uitvoerende kunste en ’n monument sal op die ou end die perseel beslaan. Die transportsentrum is ontwerp deur die argitek Santiago Calatrava.
Die monument ontwerp deur die argitekte Michael Arad en Peter Walker sal die hart van die nuwe ontwikkeling vorm en sluit die twee weerkaatsende fonteinpoele op die voetspore van die tweelingtorings in. Dit sal die name van die slagoffers van 11 September 2001 en 26 Februarie 1993 se aanvalle bevat.
Aangrensend sal ’n besoekersentrum wees waar uitstallings die herinnering van die slagoffers en die helde van die aanvalle sal herdenk. Dit sal toegang verleen tot die Wêreldhandelsentrum museum wat deur Davis Brody Bond ontwerp is.